In nog ‘n bydrae van Rocco ontvang ons die volgende advies:
Na ongeveer 3 weke in sy kamp het hulle baie reën in stortbuie gekry, wat alles onder water gelaat het. Baie van sy voorraad was nie so goed geberg soos wat hy gedink het nie, en hy het ‘n klomp kos verloor. Kartondose om kos in te stoor, is nie ‘n goeie idee nie, al is die voorraad onder seile trek die vog van die grond af in. Hy stel voor dat voorraad soos meel, suiker, sout, koffie en ander droë rantsoene in 2 liter koeldrank bottels geseël word. Gebruik ook plastiekhouers wat kan seël of toeknip.
As dit so nat is, kan selfs ‘n goeie paar skoene of stewels vinnig die gees gee. ‘n Goeie idee is reënstewels (“Wellington boots”, of “wellies”). Hulle is goedkoop, duursaam, hou jou voete droog, en (dankie Rocco vir jou ondervinding) ‘n slang pik nie deur hulle nie.
Rocco sê ook hy het ‘n hele paar Bic aanstekers gehad, en toe dit so nat was, kon hy darem steeds vuur maak. Hy beveel aan dat mens altyd sorg dat jy genoeg droë vuurmaakgoed het.
