Internasionaal word daar deur kenners gevrees dat ‘n uitbraak van voëlgriep die wêreld se gesondheidstelsels kan lamlê. Die “voorloper” in die resies is die H5N1 virus, en die vrees is dat internasionale reisigers enige vorige soortgelyke epidemie kan verdwerg. Die laaste groot uitbraak (virus H2N2) het ‘n sterftesyfer van 69 800 in Amerika gehad (tussen 1 en 4 miljoen wêreldwyd), maar anders as destyds toe die virus 5 maande gevat het om Amerika te bereik, kan dit nou binne enkele dae gebeur.

Dis maklik om die bedreiging te ignoreer, maar daar is ingeligte bronne wat die bedreiging ernstig opneem. Kyk bv. na die Amerikaanse regering se webwerf oor die virus. Onlangs was dit ook in die nuus dat ST Microelectronics ‘n nuwe rekenaarskyfie ontwikkel het wat die virus binne twee ure na infeksie in jou bloed kan optel (voorheen het laboratoriumtoetse verskeie dae geneem). Iemand beskou die bedreiging dus as belangrik genoeg om miljoene (Amerikaanse) dollars te spandeer om so ‘n mikroskyfie te ontwikkel (alhoewel op daardie stadium slegs 236 mense van die virus gesterf het – wêreldwyd).

Inligting oor ‘n onlangse “Discovery Channel” dokumentêr oor die bedreiging is nou beskikbaar op die internet. Die projeksies voorspel dat binne 90 dae nadat die eerste geval voorkom, elke dorp in Amerika oortrek sal wees met siekes.

In 1918 was die oplossing vir die “Groot Griep” isolasie gewees, en vandag sal dieselfde beginsel geld. Maar met die massiewe verstedeliking vandag, sal die prentjie nie so rooskleurig soos in 1918 wees nie. Tans kan die H5N1 virus nog nie van mens na mens oordra nie (daar is berigte dat die eerste gevalle van mens-mens oordrag reeds voorgekom het), maar kenners reken dat dit net ‘n kwessie van tyd is. Is jy gereed vir so iets?

Verskaf Kommentaar

E-pos (sal nie gepubliseer word nie)