Die einde van 2008 het menigte van ons gewonder en gewag, gehoop en gedroom oor die jaar wat in duister voor ons oopgelê het sou meebring. Baie van ons het uitgesien na dinge wat ons lewens kon verander en draai in `n rigting van positiewiteit en opwinding, ander weer na vrede en rus, ‘hoeveel van JOU drome is bewaarheid?’.
Ons het altyd soveel hoop waaraan ons so bitter graag vasklou en sommige tye glo ons so vas dat hierdie drome ons uitredding sal wees vir wat voorlê en dat as daardie bewaarheid sou word… alles sal wonderlik wees.
Maar wat het God vir jou beplan? Gaan jy daarvan hou en gaan jy bereid wees om Hom te dank vir daardie dinge wat jy nie op jou pad verwag het of wou gehad het nie.
Hoe vêr is ‘jy’ bereid om God toe te laat om jou te verander? Is jy bereid om terug te staan dat Hy Sy werk doen? Ons as mense het alewig hierdie idee dat ons dinge in eie hande moet neem… Ja goed en wel, doen wat jy kan en los die res vir die Vader. Wanneer jy in `n situasie is waar jy geen uitkoms sien nie, geen hoop sien nie; staan terug, want jy gaan niks verder kan doen nie. Dit is waar God intree en Hy oorneem met wat dit ook al mag wees. Hy kan absoluut niks doen terwyl jy jou wil probeer afdwing nie, wanneer ons iets in Sy hande lê dan beteken dit, God se wil sal geskied! Soos wat Hy dit wil laat geskied!
Leer om terug te staan hierdie jaar, leer om jou vertroue in God te stel dat Hy sal doen wat goed is in Sy oë! En wees dankbaar vir wat Hy vir jou gegee het tot vandag toe.
God verwag dit van jou!
Gustav Müller
