Ons kan weer!
Jy as vrou. Wat weet jy van jou voormoeders? Weet jy genoeg om `n trots te hê dat jy `n boervrou is? Wat jy in staat is om weer die wêreld te kan wys wat lê in ons bloed? Wanneer ons dink aan die boere oorlog se vrouens; dink ons aan die swaarkry in die kampe, die bittere seer, die vasbyt? Of sê jy maar net: ‘Ek wil liewer nie daaraan dink nie, dis hopeloos te morbied!’ Vir sommige van ons kan dit dalk morbied wees. Hoe ek dit sien en hoekom ek dit met julle wil deel is dat, hoe meer ek daarvan lees en hoe meer seer ek teekom in die briewe wat geskryf is deur die vroue in hierdie kampe; hoe groter brand daar `n gevoel van trots in my bors. Om te dink dat hierdie van ons eie bloed is, ons voorgeslagte! Dink net…
Teen die einde van die oorlog was daar in die Vrystaatse kampe `n totaal van 45 146 inwoners, waarvan 37 412 vrouens en kinders was.
In totaal is 26 370 oor die hele Suid-Afrika oorlede; vrouens en kinders en 1 676 mans, wat hoofsaaklik bestaan het uit bejaardes.
Ek sal weekliks `n aangrypende verhaaltjie met julle deel:
Uit die Konsentrasiekamp-gedenkreeks – Bethulie
Mev. Anna Breedt beskryf die afsterwe van haar suster so: ‘Een middag, kort voor haar dood, terwyl ons albei ernstig siek was, kom, ds. Becker weer in ons tent om vir ons te bid. Voordat hy egter begin, vra hy vir Emmie Naude wat die siekste was: “My kind; hoe moet ek vir jou bid en wat moet ek die liewe Heer vra? En sê nou jy moet sterf, wat moet ek vir jou pappie sê as hy kom?” Hierop antwoord sy toe: “Vra net die wil van die Heer en sê net vir my pappie ek het van die honger gesterf.” Dieselfde nag is sy dood en haar laaste woorde was: “Voor ewig met den Heer, naderby, naderby die Vaderhuis!” sy was nie meer daar nie. Sy was `n skrale twaalf jaar oud toe sy oorlede is.
Ds. Becker wat in Bethulie kamp bediening gedoen het sê: ‘Hoe ons fatsoenlike moeders en dogters dit kon verduur, is vir my vandag nog `n raaisel!’
deur Naomi Muller
