Leser Baardman het die volgende Toerusting Evaluasie Verslag (TEV) gestuur:

“Ek het onlangs by twee geleenthede die “lightsticks” (“cyalumes”, “lumosticks”) van die vervaardiger Coghlan’s getoets. Hierdie ligbronne is algemeen by kampeerwinkels beskikbaar, en Coghlan’s is ‘n vervaardiger van kampeer- en oorlewingstoerusting (hulle produkte is verpak in ‘n kenmerkende helder groen verpakking).

Daar is lokale verspreiders van soortgelyke produkte, maar op navraag het ek gevind die rakleeftyd van die ligbuise (“lightsticks”) (wat uit China kom en algemeen gebruik word deur kinders by skole by geleenthede in die aand) BAIE kort is (tipies minder as 6 maande), terwyl die Coghlan’s buise tipies ‘n 2 of 3 jaar rakleeftyd het. Koste is tipies omtrent R25 elk.

Die ligbuise word geaktiveer deur die (plastiek)buis te buig en die ligbuis te skud (dit meng twee chemiese stowwe wat dan lig afgee). Die Coghlan’s ligbuise gee ‘n buitengewoon helder lig af, en word verkoop as “12 ure lig”. Na 12 ure gee die ligbuis steeds lig af, maar BAIE dowwer (die lig uitset neem geleidelik af soos tyd verloop).

Ons het een van die ligbuise oopgesny en van die vloeistof op ons vel gesit. Ons het gevind dat sensitiewe velle ligweg op die chemiese vloeistof reageer – amper soos ‘n allergie. Wees dus maar versigtig.”

Nota van Redakteur: Coghlan’s se produkte is op hul webwerf http://www.coghlans.com/ beskikbaar. Ligbuise word onder andere gebruik deur scuba-duikers, militêre spanne (om bv. tydens gebou-beveiliging aan te dui watter kamers is reeds beveilig), en omdat dit so klein is, is dit maklik om ‘n paar in jou rugsak te hou.

Het jy ‘n bydrae om te maak oor ‘n spesifieke stuk toerusting? Bydraes word verwelkom – deel jou ondervinding met mede-Suidlanders.

Verskaf Kommentaar

E-pos (sal nie gepubliseer word nie)