Die eerste amptelike Suidlander Funksie was vrydag aand in Port Elizabeth gehou. Die opkoms was goed gewees, wat weereens die belangstelling in die Suidlanders bevestig het.
Daar was tot op hede nog nie amptelik baie aandag gegee aan die groepe in die gedeelte van die Oos-Kaap nie, maar ons is nou baie verheug om te kan verklaar dat daar nou ‘n goeie struktuur in plek geplaas is om die groepe te kan help organiseer. Die aanstelling van die amptelike Streeks Organiseerders en Sameroepers is ook ten tye van die funksie bevestig.
Indien u in die volgende omgewings woon wil ons op u ‘n beroep doen om met ons in verbinding te tree sodat ons u kan verwys na die verantwoordelike persoon in u omgewing. Die hele omgewing vanaf Port Elizabeth tot by Uitenhage, Addo, Jeffrey’s Baai, Kirkwood, Port Alfred, Cookhouse en Grahamstown is ingesluit.
Ons wil dit weereens onder u aandag bring dat die Omgee-Groepe bestaan uit mense uit u eie omgewing, en daarop gerig is om u aan mense bekend te stel wat net soos u bekommerd is oor die situasie in die land. Die uitgangspunt is om deel te raak van noodplanne wat deur elke streek opgetrek word om verantwoordelike optrede te handhaaf in tye van nood, om sodoende paniek en chaos te voorkom en om u kanse op oorlewing te verhoog, let asseblief daarop dat geen onwettige optrede geduld sal word nie.
In ons huidige samelewing het ons begin om by mekaar verby te leef, dit het ten tye van die funksie ook duidelik na vore gekom, met die situasie waar die SAPS soms ure neem om by ‘n misdaad toneel op te daag het dit meer en meer belangrik begin raak dat ons self begin verantwoordelikheid neem vir ons veiligheid. Die Suidlander Omgee-Groepe het tot gevolg dat daar altyd iemand is (wat jy kan vertrou) wat jou tot hulp sal wees in ‘n geval van nood.
Ons bedank weereens almal wat bygedra het tot die geweldige sukses van die funksie in Port Elizabeth. Indien u van ‘n ander omgewing is en graag ’n funksie in u omgewing wil reel, sal ons dit waardeer indien u met ons in verbinding kan tree deur gebruik te maak van die kommentaar funksie onder aan die pos.
(Indien u buite die omgewings woon kan u ons ook kontak om te reel vir kontakte in u omgewings)
