Ons Suidlanders is gewoond daaraan om voor te berei, en meeste van ons het ‘n sekere hoeveelheid kos wat gestoor word vir wanneer ons nie kos kan koop nie. Van ons roteer hierdie voorraad op ‘n gereelde basis, gebruik die oudste en vul met nuwe voorraad aan.
Het enigiemand al daaraan gedink dat sommige van ons sigarette meer nodig het as kos? As jy een pakkie sigarette per dag rook, rook jy omtrent een sigaret elke uur. Hoe lank kan jy sonder sigarette gaan voordat dit jou begin beïnvloed? Indien jy nie weet nie, stel ons voor dat jy onmiddellik werk maak om uit te vind. Vra iemand na aan jou om op te let of dit jou konsentrasie, spanningsvlakke ens. beïnvloed as jy vir ‘n paar dae nie rook nie. Geïrriteerdheid is ‘n algemene simptoom van onttrekking, en een wat ons nie sal kan bekostig in ‘n krisis nie.
Alhoewel ons nie voorsien dat ons (Suidlanders) in ‘n nasionale krisis situasie fisies vir iemand gaan moet “wegkruip” nie, is dit ook belangrik om te besef dat jy nie kan rook indien jy probeer om nie opgemerk te word nie.
So, indien jy afhanklik is van sigarette (fisies of psigologies), nou is die tyd om iets daaromtrent te probeer doen, of om voorsiening te maak vir jou afhanklikheid.
