In antwoord op navrae wat ons ontvang het oor sekuriteit oor radio:
Enige “draadlose” kommunikasie (tweerigtingradio, WiFi, iBurst, selfoon ens.) staan die gevaar om onderskep te word, sonder dat die onderskepper toegang tot die twee partye wat kommunikeer, se kommunikasie toerusting het. Indien die partye wat kommunikeer nie die inligting wat oorgestuur word, as algemene kennis wil hê nie, moet een of ander vorm van sekuriteitstelsel gebruik word.
In draadlose internet kommunikasie, sowel as selfone, word hierdie sekuriteit VIR die party(e) gedoen (kan egter steeds onderskep word), maar met tweerigtingradios is dit ‘n ander saak. Een manier om privaatheid te probeer verseker, is om gereeld van frekwensie te verander (sonder om die volgende frekwensie oor die lug te stuur), om die waarheid te sê, daar is radios wat dit outomaties doen (“frequency hopping”, ontwikkel vir militêre radios).
Nog ‘n manier is om ‘n elektroniese toestel (“scrambler”) te gebruik om die uitsending onverstaanbaar te maak, wat aan die ander kant deur ‘n ooreenkomstige toestel weer verstaanbaar gemaak word. Die nadeel hier is dat beide partye die toestel nodig het.
‘n Ander manier is om in “kode” te praat, waar die kode net aan die partye wat kommunikeer, bekend is. Daar is BAIE verskillende maniere om uitsendings te enkodeer (lees self op oor “encryption” en “ciphers”). Vir ‘n kode om te werk, moet die partye vooraf ooreenkom op die kode, en ENIGE lekkasie van die kode maak alle uitsendings wat daardie kode gebruik of GEBRUIK HET (ou uitsendings is moontlik opgeneem), leesbaar. Indien ‘n kode gebruik word, is dit ook ‘n goeie idee om so min as moontlik (net dit wat nodig is) van die boodskap te kodeer (dit gee onderskeppers minder om mee te werk om die kode te breek).
Dit is dus duidelik dat daar eers ‘n vertrouensverhouding moet bestaan tussen die partye wat op ‘n kode ooreenkom.
‘n Verdere vorm van sekuriteit oor radio is om so lae as moontlike krag vir die uitsending te gebruik. As kommunikasie oor ‘n paar kilometer nodig is, kan lae krag gebruik word, en die onderskepper moet dan ook fisies naby aan die partye wees, of om gerigte (“directional”) antennas te gebruik, wat beteken die onderskepper moet min of meer in lyn met die partye wees.
