Met die SATAWU staking wat gister (7 April) begin het, was daar verskeie berigte van geweld. Van die berigte was van drywers wat wel gaan werk het (en wat nie deel is van SATAWU nie) wat uit hulle voertuie gepluk is en aangerand is. Dan was daar ook “gerugte” van voertuie wat met klippe bestook is.
Dit wil dan ook voorkom dat die staking wel aangaan en nog nie beeindig is nie vanwee die geskil oor lone. Ons kan dus met redelike sekerheid aanneem dat indien die staking nie binne die volgende dag of wat beeindig word nie ons dalk meer geweld en intimidasie gaan sien.
Ons wil u dus weer versoek om u voertuie so spoedig moontlik vol brandstof te maak aangesien brandstof aflewering onder andere nie sal plaasvind nie.
Die Suidlanders het verseker genoeg oë en ore op die grond om sodra die situasie sou dreig om hand uit te ruk, u so spoedig as moontlik in kennis te stel van enige verwikkelinge. Ons fone het van vroegdag af gegons soos die situasie in bykans al die provinsies aan ons deurgegee is. Moet dus geensins paniekerig raak en sommer enige “gerugte” glo nie. Hou gerus die webblad dop, ons sal enige gebeure wat dui op geweld wat u moontlik kan raak hier plaas sodra ons daarvan kennis neem.
Neem ook gerus foto’s indien moontlik van stakers en enige aksies wat u mag waarneem. Stuur dit tesame met beskrywings van wat u waarneem aan ons deur sodat ons dit hier kan plaas indien moontlik.
