Om ‘n radio-amateur te word, verg studie en die aflegging van ‘n eksamen (die eksamen toets jou kennis oor tegniese aspekte van radios, sowel as die regulasies wat amateur radio beheer). Daar is slegs twee geleenthede per jaar om die eksamen af te lê (Mei en Oktober).

Amateur radio is ‘n interessante stokperdjie (indien jy in radio/elektronika belangstel), en ‘n radio amateur word gelisensieer om ‘n verskeidenheid frekwensies te mag gebruik. In die ou dae was dit nodig om Morse-kode te leer om die eksamen af te lê, maar hierdie vereiste is nie meer geldig nie.

Indien daar enige Suidlanders is wat belangstel om die Radio Amateur Eksamen af te lê, is alle inligting wat nodig is op die Suid Afrikaanse Radio Liga se webtuiste beskikbaar. Navigeer deur die spyskaart op linkerhand na “Licensing”, dan “Radio Amateur’s Examination”.

‘n Studiegids is aanlyn beskikbaar. Daar is ook in baie van die groter sentra amateur-klubs wat klasse aanbied vir voornemende amateurs. Die eksamen word landwyd afgeneem (aspirant-amateurs op klein dorpies moet gewoonlik die eksamen op die naaste groot dorp aflê).

‘n Verdere voordeel is dat amateurs nie elke radio wat hulle besit, te hoef lisensieer nie. Die persoon self word gelisensieer en hy/sy kan dan soveel radios as wat hy/sy wil, besit. Die koste vir registrasie vir die eksamen is R300 eenmalig, en die hernuwing van die amateurlisensie is R27 per jaar (vergelyk dit met ‘n burgerband radio lisensie (“CB”) wat R35 per jaar is!).

Die SARL het ook ‘n nood-kommunikasie liggaam, genaamd Hamnet, wat bestaan uit amateurs wat hulself beskikbaar stel om te help met nood kommunikasie tydens krisisse. Hierdie is ‘n wêreldwye verskynsel – lees byvoorbeeld hierdie verslag deur een van die eerste amateurs wat gereageer het op die 11 September 2001 gebeure in New York.

Die sluitingsdatum vir die RAE registrasie is 11 September. Ons raai soveel moontlik Suidlanders as wat kans sien, om hulleself te kwalifiseer as radio-amateurs (en aan te sluit by Hamnet).

Verskaf Kommentaar

E-pos (sal nie gepubliseer word nie)