Leser “Dommie” het in kommentaar gevra of GPS toestelle steeds sal werk na ‘n kragonderbreking, en die kommer uitgespreek oor voedselvoorraad wat weggesteek is en dan nie weer gekry word nie. Hier is ‘n kort verduideliking van hoe GPS ontvangers werk…
Die GPS (“Global Positioning System”) bestaan uit ‘n klomp (meer as 24) satelliete wat heeltyd seine uitsaai. Hierdie seine word deur die GPS ontvanger ontvang (die GPS saai niks self uit nie), en hierdeur word die posisie van die ontvanger bereken. Die ontvanger het seine van minimum 3 satelliete nodig, verkieslik 4 of meer.
Die seine wat van die satelliete ontvang word, bevat ‘n ongelooflik akkurate tyd-merk (“time stamp”). Die ontvanger weet presies waar elke satelliet op enige gegewe stadium behoort te wees, en deur die verskil in tyd-inligting van die verskillende ontvangde seine te verwerk, kan die ontvanger bereken hoe ver dit van elkeen van die satelliete is (en dus waar op die aarde die ontvanger is).
‘n GPS ontvanger werk van batterye af, en ‘n kragonderbreking (selfs wêreldwyd) sal geen invloed op die ontvanger hê nie, so lank as wat die ontvanger se batterye aanhou werk. Die enigste maniere waarop die GPS stelsel kan faal, is as iemand die satelliete vernietig, of as die Amerikaanse lugmag (eienaar van die GPS satelliete) die stelsel afskakel (hoogs onwaarskynlik aangesien meeste moderne vliegtuie GPS gebruik om te navigeer, insluitende Amerikaanse lugrederye).
Aan boord van die GPS satelliete is daar ‘n tweede, onafhanklike, meer akkurate GPS sender, wat vir die militêre GPS stelsel gebruik word. Die Amerikaanse weermag KAN dus tegnies die burgerlike GPS stelsel afskakel sonder om hulleself in die voet te skiet.
So, wees nie bekommerd oor GPS werking na ‘n kragonderbreking nie. Sorg net dat jy ‘n manier het om die ontvanger se batterye te herlaai (as dit nie van jou voertuig se battery af werk nie).
