Ons is amper gereed om ons eerste navigasie-skattejag (“geocache”) af te skop! Ongelukkig vir die Kapenaars gaan hierdie een in Gauteng afspeel (Pretoria omgewing). Die tema van die skattejag sal “Boerehelde” wees. Hou hierdie spasie dop vir die eerste leidrade.

Die skattejag sal vereis dat die skattejagter 3 bestemmings sal moet besoek. Op elk van die eerste twee bestemmings sal leidrade gevind word wat, saam met die aanwysings, die derde en finale bestemming sal openbaar. ‘n GPS sal nodig wees om die leidrade te volg. ‘n Gewone padvoertuig sal voldoende wees om die skat te vind.

Die idee is om die skat te gaan op-eis, en te vervang met ‘n soortgelyke skat vir die volgende jagter. Skattejagters moet voorberei deur ‘n “skat” ter waarde van tussen R100 en R200 gereed te hê om die skat wat hulle op-eis, te vervang. Die skat sal in ‘n staal trommeltjie weggesteek wees, wat ongeveer 300mm x 250mm x 150mm groot is. Daar sal ‘n logboek en pen in die trommel wees en suksesvolle jagters word versoek om die datum, hulle naam, beskrywing van die opgeeisde skat en die vervanging-skat te log. Die trommel sal gereeld nagegaan word om die vordering te meet.

Die skatte moet verkieslik Suidlanders-geörienteer wees (asseblief, NIE 10 blikkies boeliebief nie!). Gebruik verbeelding en maak dit lekker vir die volgende jagter. Nog voorbeelde van slegte skatte sal wees enigiets wat onwettig is, of ‘n lisensie benodig (dus geen ammunisie, of gekopieerde sagteware of videos), terwyl goeie skatte sal wees boeke (bv. kampresepte), DVDs (soos bv. 4×4 DVDs), kampeertoerusting, 4×4 toerusting, ens. Onthou die afmetings van die trommeltjie!

Ons doen ook ‘n beroep op Suidlanders in verskillende gebiede om hul eie navigasie-skattejagte aan die gang te sit. Stuur ‘n e-pos met die detail, dan plaas ons dit (‘n skattejag hoef nie veelvuldige bestemmings te hê nie). Noem asb. as die skattejag ‘n 4×4 voertuig vereis.

Verskaf Kommentaar

E-pos (sal nie gepubliseer word nie)