Jy sê die stryd is verlore,
Ons nasie te arm en klein,
Ons taal uit drang gebore
Wat een van die dae verdwyn?
My broer, dit mag heeltemal waar wees.
Wie weet wat die toekoms gaan baar?
Miskien moet ons oormôre klaar wees
Om weer hierdie droom te laat vaar;
Maar as ons net altyd moet strewe
Na wat tot oorwinning gaan lei,
Wat baat dan die stryd van die lewe
Waarin ons onseker moet bly?
Solank jou bedoelings maar goed is,
Gaan jy jou oor neerlae kwel?
Solank jy volhard en vol moed is –
Dis tog die probeerslag wat tel!
Nee, soet is die stryd vir die stryer,
Want hy het die roepstem gehoor;
Maar die man wat sy deelname weier,
Is die man wat sy nasie vermoor.
(I.D. Du Plessis – Land van ons vadere 1945)
