Hoekom ons die buitelandse nuus dophou
Baie Suidlanders het al die vraag gevra hoekom ons buitelandse nuus sowel as die gebeure in Suid-Afrika dophou. Die sentiment is gewoonlik dat ons onsself slegs hoef te bekommer oor die verskillende bedreigings in Suid-Afrika, en dat die gebeure in die buiteland ons nie aangaan nie.
Hier by Suidlander Redaksie wil ons van daardie opinie verskil. In vandag se wêreld is ons nie meer so geïsoleer soos bv. twintig jaar gelede nie. Die gebeure in die buiteland het ‘n direkte invloed op ons lewens.
Op ‘n ander onderwerp, wat hierby aansluit, is jul Redakteur ook van opinie dat enige moeilikhede wat die Boerevolk ondervind of gaan ondervind, voorspel is deur Siener van Rensburg. Alhoewel ek van opinie is dat nie een van die skrywers van boeke oor Nicolaas van Rensburg (daar is ten minste drie boeke, en interpretasies, deur drie verskillende outeurs) die visioene van die Siener heeltemal korrek interpreteer nie, is daar tog waarde (hierdie Redakteur se opinie) om na die Siener se voorspellings te luister.
Vir diegene wat van mening is dat Siener van Rensburg ‘n kwak was, is hierdie argument natuurlik waardeloos.
Die punt is egter dat Siener van Rensburg die moeilikheid wat hy vir die Boerevolk (van vandag) voorsien, in ‘n wyer konteks geplaas is met gebeure in die buiteland (Amerika, Engeland, Europa). Die wyer konteks sluit in finansiële moeilikhede, oorloë en meer.
DIT is ‘n groot rede dat ons die ekonomie, politieke situasie, natuurrampe en siektes/epidemies van dwarsoor die wêreld in ag neem op hierdie blad. Alhoewel die Suidlanders waarskuwing nie gebaseer is op profesieë (die van Siener van Rensburg of enige ander persone) nie, kan mens nie help om die ooreenkoms tussen spesifiek Van Rensburg se visioene en die huidige klimaat (polities, ekonomies, ens) op te merk nie.
‘n Verdere rede is, soos in die eerste paragraaf genoem, dat die “global village” waarin ons lewe ‘n impak op ons lokale ondervinding het, of ons dit nou aanvaar of nie.
Ons sal dus aanhou om die situasie wêreldwyd dop te hou, en daarop berig te lewer. Dit beteken nie ons skeep die binnelandse situasie af nie, en soos enigiemand kan sien, die situasie binnelands lyk ROOSKLEURIG met die sokker wêreldbeker wat al nader kom (ten minste, dis wat die massa media ons vertel).