Baie van ons het dalk al gewonder: Hoe lank gaan my voorraad regtig hou. Jy sit dalk met ‘n paar kratte/bokse/houers vol kos en ander voorraad, maar jy weet nie regtig hoe lank dit gaan hou nie. Ja, daar is lyste (op hierdie webwerf ook) wat se dat ‘n sekere hoeveelheid voedsel sal vir 2 mense so lank of vir 4 mense so lank hou.
Daar is ‘n paar probleme met die lyste. Hulle neem aan dat alle mense eet dieselfde hoeveelheid, of sal in staat wees om hulself te beperk tot ‘n sekere rantsoen elke dag. Hulle neem aan dat almal hou van dieselfde kos. Ek bly byvoorbeeld eerder sonder vleis as wat ek soya eet, en hou niks van Macaroni nie. Ek vat eerder ekstra rys. So het elkeen sy eie voorkeure en smaak. Nou hoe gaan ek weet hoe lank gaan my voorraad hou – hoe lank is ‘n stukkie tou?
Ek sou graag my lys wou neem na iemand wat bekwaam is met logistieke beheer en voorraad-beplanning in die hoop dat hulle my kan help. Hulle gaan egter vir jou ‘n paar vrae vra voordat hulle jou kan antwoord. Indien jy egter die antwoorde op hierdie vrae het, dan kan jy self uitwerk ‘hoe lank jou stukkie tou is‘.
Die vrae is net die volgende – hoeveel voorraad verbruik julle gemiddeld elke maand? Nou dis moeiliker om dit uit te werk as almal elke dag skool en werk toe gaan en daar van ander bronne se voorraad gebruik maak – soos die toilet-papier by die werk, of die etes wat jy by die werk eet (of “take-aways”). Hier le egter ‘n vakansie-tydperk voor waar die kinders by die huis is en die meeste mense by die huis is. Maak gebruik van hierdie geleentheid en kyk hoeveel verbruik julle oor ‘n maand of ‘n paar weke, en as julle iewers ander gaan eet, “‘take-aways” kry of op enige ander manier ‘ander’ bronne van gebruik maak, teken dit op en voeg dit by jou som. Ek weet almal wil net braaivleis hou en ‘party’, maar probeer so normaal as moontlik te eet en te leef, en dan sal jy self kan uitwerk ‘hoe lank jou stukkie tou is‘.
