In Amerika is daar ‘n groot groep “voorbereiders” wat ‘n finansiële ineenstorting sien as die sneller vir ‘n landswye (wêreldwye) krisis met anargie as gevolg.
In die ou dae het “survivalists” voorberei op ‘n kern-oorlog. Hulle voorbereidings was dan ook in die vorm van skuilings wat bestand was teen bestraling, en kon hierdie mense vir lang tye in die skuilings oorleef.
Vandag word ‘n finansiële ineenstorting gesien as ‘n waarskynlike oorsaak vir ‘n ineenstorting van die samelewing soos ons dit ken. Daar is baie bekende skrywers (boeke en op die internet) wat vir verskeie jare al waarsku dat die Amerikaanse (en inderdaad, die res van die wêreld se) finansiële stelsel inherent “gebreek” is, en dat al die inmenging van die regering (in Amerika) net die probleem vererger.
Hierdie skrywers en sg. “doemprofete” voel dan nou dat die onlangse faling van vier groot Amerikaanse banke (Fannie Mae, Freddie Mac, Merrill Lynch en Lehmans Brothers) hulle teorie korrek bewys. Die manne waarsku verder dat hierdie net die begin van die probleem (d.w.s. die punt van die ysberg) is.
Een van die groot waarskuwingstekens wat deur die voorstanders van ‘n ekonomiese ineenstorting genoem word, is dat mense (wat bekommerd is dat hulle bank ook in die moeilikheid is) toue by die banke sal vorm om geld te trek (wat natuurlik dan verhoogde spanning plaas op die bank se geldvoorsiening).
In Amerika is daar ook nou (onbevestigde) berigte dat banke meer en meer uit kontant raak (d.w.s. teen die tyd wat die pantservoertuig met geld opdaag, is die kluis reeds leeg). Dit dui maar net op ‘n groter-as-normale onttrekkings patroon. Moontlik nog ‘n aanduiding dat die man op straat agterkom wat op televisie aan hom vertel word, nie noodwendig die waarheid is nie?
Of ‘n finansiële ineenstorting nou lei tot anargie en die afbreek van die samelewing, of nie, dit raak al meer en meer duidelik dat voorbereiding om selfversorgend te wees, ‘n GOEIE IDEE is. As jy nog nie begin het met voedselberging, en ander voorbereiding nie, nou is die tyd. Belangrik: moenie jou geestelike voorbereiding afskeep nie!
