Baie eienaars van vierwieltrek-voertuie is nie seker oor wat ‘n ewenaarslot doen, en jou toelaat om te doen nie. Hier is ‘n kort opsomming:
‘n Voertuig se ewenaar (“diff”, “differential”) sit tussen die linker en regterwiel (soms ingebou in die ratkas, soos op voorwielaangedrewe voertuie), en laat die linker- en regterwiele toe om teen verskillende snelhede te draai. Dis belangrik vir wanneer ‘n voertuig om ‘n draai gaan (die buitenste wiel maak meer omwentelinge as die binnewiel).
Een van die newe-effekte van ‘n ewenaar is dat die wiel met die minste weerstand (“traction”) meeste van die krag kry. Dit kan op ‘n gewone 2 wiel aangedrewe voertuig gedemonstreer word deur een gedrewe wiel met ‘n domkrag op te lig en die voertuig in rat te sit. Die wiel draai vrylik, maar die voertuig staan stil (op die ander drie wiele).
Dieselfde beginsel geld tussen voor en agter op permanente 4×4 voertuie. Sulke voertuie het gewoonlik ‘n “sentrale ewenaarslot” wat die verhouding krag wat vorentoe en agtertoe gaan, sluit (gewoonlik in ‘n 50/50 verhouding). As een wiel in gladde modder staan of van die grond lig, sou die voertuig onder normale omstandighede gaan staan, maar deur die sentrale slot te aktiveer, kan die stel wiele wat albei op die grond is, die voertuig deur die hindernis trek of stoot.
Voertuie sonder permanente 4×4 het baie maal “locking hubs” op die voorwiele. Dit moet nie met ewenaarslotte verwar word nie – die “locking hubs” ontkoppel net die wiel self van die voorste ewenaar – die doel hiervan is om te voorkom dat (tydens 2×4 gebruik) die hele voorste ewenaar en deel van die oordragratkas (“transfer gearbox”) die hele tyd draai (dit verminder petrolverbruik effens, en ook slytasie).
‘n Voertuig met ‘n sentrale ewenaarslot (of nie-permanente 4×4 (“selectable 4×4″)) kan gaan staan wanneer een wiel voor EN een wiel agter van die grond af is – die 4×4 manne praat van ‘n “cross-axle”. Selfs die sentrale ewenaarslot help nie veel in hierdie situasie nie, die enigste oplossings is ‘n ewenaarslot (voor, agter of albei), momentum om deur die hindernis te kom, of ‘n “recovery” operasie.
In ‘n “cross-axle” hindernis, indien die voertuig met ‘n ewenaarslot (bv. agter) toegerus is, kan die bestuurder die slot aktiveer, wat beteken die linker- en regteragterwiele draai ewe vinnig en kry elk helfte van die krag. Indien een van die twee wiele die grond verlaat, sal die ander wiel steeds krag ontvang en die voertuig deur die hindernis kry.
Baiemaal is dit moontlik om net vinnig genoeg deur die hindernis te ry sodat die momentum van die voertuig dit deur die “cross-axle” situasie dra. Dit kan egter gevaarlik wees, in welke geval ‘n “recovery” operasie nodig is. Soms is dit so maklik soos om ‘n paar manne bv. op die buffer te laat staan, om genoeg gewig op die wiel wat in die lug draai, te kry om weer die grond te raak en dus deur die hindernis te kom. Soms is dit nodig om die teenoorgestelde hoek van die voertuig met iets soos ‘n “highlift jack” op te lig tot die oorstaande wiel weer grond raak.
‘n “Cross-axle” hindernis is die een hindernis waar ‘n 2×4 voertuig MET ewenaarslot beter werk as ‘n 4×4 voertuig sonder ewenaarslot.
Min voertuie het ewenaarslotte voor EN agter. Voorbeelde is die nuwe basiese Land Cruiser en die Mercedes-Benz Geländewagen. Daar is egter nie veel situasies waar ‘n ewenaarslot voor EN agter nodig is nie. Nuwer voertuie kom baiemaal uit met “traction control”, waar elektronika die plek van die ewenaarslot inneem (en die wiel wat los draai, identifiseer en m.b.v. die ABS stelsel rem). Die nadeel van elektroniese beheer is dat die een wiel eers moet begin los draai voordat dit aktiveer (soms gepaard met ‘n wolk stof).
Dit is ook belangrik om te onthou dat ‘n voertuig waarvan die ewenaarslot aan is, moeilik draai (die buitewiel sleep letterlik). As die voorste ewenaarslot aan is, wil die voertuig glad nie draai nie. Al draai jy die stuurwiel, die voertuig hou aan reguit beweeg. Dit kan ‘n veiligheidsrisiko inhou.
