Archive for the ‘Voertuie’ Category
Indien daar dalk iemand is wat in die nabye toekoms ‘n nuwe voertuig wil aanskaf, kan hulle gerus na die Knight XV kyk. Gaan loer gerus by http://conquestvehicles.com/.
Andersins kan u kyk na die Ford F650: http://www.f650pickups.com/indexb.html
Leser Glenn uit Irak het vir ons ‘n wenk gestuur oor hulle ondervinding in verband met voertuie:
Al die voertuie in Irak het ten alle tye ‘n sleeptou (“strap”) voor en agter aan die voertuig vasgemaak. In ‘n noodsituasie kan ‘n (gebreekte) voertuig dus binne oomblikke weer mobiel wees (gesleep deur ‘n ander voertuig).
Dis ‘n handige wenk om in gedagte te hou indien jy verwag dat dit belangrik kan wees om mobiel te bly.
Na aanleiding van die Lys van lyste, kom ons kyk na een van die items in die lys: Voertuig.
As ons moet onttrek, sal ons dit verkieslik met ‘n voertuig wil doen. Fietse en te voet sal ook werk, maar dit moet die laaste opsie wees. Indien die voertuig so belangrik is, moet ons seker maak dat ons tref voorbereiding vir die voertuig ook.
Baie van die voertuie wat ons deesdae koop, kom met diens- en instandhouding-planne waarby die dienste van die voertuig outomaties gedoen en betaal word. Indien ons egter ‘in die bos’ is, is daardie fasiliteite nie meer beskikbaar nie. Indien jy gelukkig is, is daar darem ‘n motor-werktuigkundige daar. Maar selfs hy gaan niks kan doen as daar geen spaar parte is nie. Dus…
Wanneer jou motor weer gaan vir ‘n diens, vra om te ou parte te kry en hou dit. ‘n Part wat bietjie verweer het is beter as geen part nie. Indien die finansies dit toelaat, koop self ekstra filters, briek-blokkies en -skoene, en ander soortgelyke parte. U hoef nie AL die parte van die voertuig te hê nie, net genoeg om dit deur een of twee ‘normale’ minor’ dienste te kan sit. En moet nie vergeet van olie nie – ‘n diens gebruik nogal baie van dit, en dit help in elk geval nie jy het 1000 liter brandstof maar geen olie nie. Kry sommer ook ‘brake-fluid’, ‘power-steering fluid’, en ekstra ‘wipers’ ook. (‘Pirate’ parte is goedkoper as die handelaars s’n, en in die bos gaan ons net gepla wees om die voertuig aan die gang te kry/hou.)
U ken u voertuig. Daardie klein parte wat nie baie plek opneem nie (en gewoonlik ook nie baie duur is nie), maar wat die kan maak dat die voertuig ‘onbruikbaar’ is, skaf dit aan. Indien ons die hoofweë gaan vermy, en dalk baie op grondpaaie gaan ry, kry dan gerus ‘n ekstra lug-filter ook – stofpaaie maak hom gou-gou vuil.
Batterye is ‘n moeiliker een. Jy kan nie ‘n battery nou koop en vir 6 maande ‘stoor’ nie. Hy raak onbruikbaar. Indien u wel ‘n ‘droë sel’ kan kry, en ‘n paar bottels battery-suur, dan kan dit werk. (Indien daar iemand is wat weet waar ons ‘droë selle’ kan kry, laat weet asb.)
Nog iets om in gedagte te hou is die bande. Maak seker dat jy meer as die normale 1 spaarband het – vir die voertuig en die sleepwa/karavaan. Dis nie nodig om die hele wiel aan te skaf nie, net die band – dis goedkoper en ligter en neem minder spasie op. Maak seker jy het ‘n pomp – ‘n handpomp mag dalk lank neem, maar dit werk. Maak seker jy het ‘puncture-kits’ vir lekke aan die bande.
In reaksie op die klippe op die pad, het ons die persoon opgespoor wat die klip-skraper maak wat vooraan ‘n voertuig aangesit kan word waarmee klippe uit die pad gestoot kan word. Hy noem dit ‘n vooros. Dit weeg tussen 40-50kg dit is uit 6mm plaat gemaak en is nie baie swaar nie (en aerodinamies). Dit word met 20mm round bar aan jou bakkie of motor gemonteer. Die vooros haak net aan en is baie maklik om deur een man op te sit. Hy monteer dit op jou voertuig met ‘n paar slotte waar die vooros net in slot en dan met splitpins in plek gehou word. Hier is ‘n paar foto’s.

Hy het ook ‘n fiets battery laaier. Jy hoef nie lank te trap nie miskien een tot twee minute net om die 12v motortjie aan die gang te kry dan klim jy af en die motortjie sal dan die trapwerk doen. Jy kan die stelsel 24/7/365 laat hardloop jaarin en jaaruit (solank as wat die onderdele hou). Die prinsiep werk van ‘n motorkar alternator af. Die stelsel is kompak en kam maklik opgepak en in jou sleepwa/karavaan verpak word.
Dan het hy die volgende. Parrafien stoffie en geyser gekombineerd aan een. Werk met so 4-6 bar druk wat jy met ‘n fiets pomp oppomp en dan brand die ou laat dit bars. Met 5L parrafien kan vir 5 mense vir 30 dae drie keer per dag kos gemaak word en een keer bad. Jy het binne 20 sek warm water en 30 sek kook water. Hy kan ook parrafien yskaste en deep-freezers bekom, en het gel stoffies en gel brandstof beskikbaar.
Met sy toestemming plaas ek sy besonderhede hier. Dis JJ Beukes – 0832637228. Kontak hom gerus indien u wil bestel of indien u meer inligting verlang.
Die laaste ruk was daar weer heelwat berigte in die nuus oor klippe op die pad.
Daar was ‘n paar optogte in-en-om Johannesburg waartydens verskeie paaie met klippe afgesper is. Net gister was daar weer iemand wat in die vroee oggend-ure met sy voertuig oor klippe gejaag het, en toe hy stop om na die skade te kyk, toe word hy geskiet.
As ek kan aanbeveel… Nou ek verstaan dis moeilik om skielik te stop of uit te swaai wanneer jy klippe in die pad sien, veral as jy 120km/h ry (ons mense ry mos nie vinniger as dit nie); maar indien moontlik vermy dit. Indien jy dit nie kon mis nie, MOET NIE STOP NIE – veral as dit donker is. Ry eerder so ‘n kilometer of wat verder voor jy stop (oor die volgende bult) of tot by die volgende pertol-stasie of een-of-ander openbare plek. Ja, die motor se bande mag in die proses dalk heeltemal verwoes word, maar eerder nuwe bande moet koop as in die hospitaal of graf beland.
Met ‘n oog op die toekoms, wanneer ons die dag moet ontruim… Ons kan verwag dat van die paaie ook met klippe versper sal word (en dat hulle selfs die veld langs die pad dan aan die brand kan steek om sig te belemmer). Tref nou al voorsorg. Maak seker dat jy meer as die normale 1 spaarband het. Dis nie nodig om die hele wiel aan te skaf nie, net die band – dis goedkoper en ligter en neem minder spasie op. Maak seker jy het ‘n pomp – ‘n handpomp mag dalk lank neem, maar dit werk. Maak seker jy het ‘puncture-kits’ vir lekke aan die bande.
Vir die tegniese ouens (of dames)… Daar was op ‘n stadium iemand wat ‘n ‘klip-skraper’ ontwerp het wat hy voor aan sy bakkie sou vassit sodra hy moet onttrek waarmee hy net kan ry, en letterlik die groot klippe uit sy pad uit stoot. Indien daar een of twee sulker ‘n voertuie in elke groep is, sal die groep deur die klip-versperrings kan kom.
Indien daar nog voorstelle is oor hoe om klippe (of rook) op die pad te hanteer, laat weet asb.
GPS ontvangers kom in baie verskillende kleure en geure – en prysklasse. Die Garmin Nuvi 200W (vir “widescreen”) is ‘n goedkoop en baie veelsydige GPS ontvanger wat homself uitstekend van sy taak kwyt.
Daar is baie duurder modelle in die Garmin Nuvi reeks – soos bv. die groot Nuvi 760 (min of meer R6000), met heelwat meer funksies. Teen ongeveer R3000 is die Nuvi 200W baie meer bekostigbaar, en het die voordeel dat dit dieselfde elektroniese kaarte as die duurder modelle gebruik. Dit het ook dieselfde “touch-screen” waarmee die gebruiker die GPS bedryf. Met ‘n interne battery-leeftyd van slegs 4 ure is hierdie GPS ontvanger definitief vir voertuig-gebruik bedoel (waar dit permanent aan die voertuig battery gekoppel is).
Die groter modelle se ekstra funksies is baie oulik – ‘n MP3/MP4 speler (jy kan flieks kyk op die goed), ‘n FM sender sodat die stem-aanwysings deur jou voertuig se radio kan speel, ‘n Bluetooth-verbinding (na bv. ‘n selfoon), ens. Maar dit kan as “luukshede” beskryf word, en nie almal kan die ekstra koste regverdig nie.
Die Nuvi 200W kom met die hele Suider-Afrika straatkaarte op ‘n voorafgelaaide SD-kaart (geheuekaart), die koste van hierdie straatkaarte indien dit afsonderlik gekoop word is ongeveer R1000.
Die Garmins se roeterings-algoritmes en datastelle word algemeen beskou as van die beste op die mark, en dis hier waar selfs die 200W uitblink. Die bestemming kan op verskillende maniere gekies word (bv. o.a. direk van die kaart af, deur die intik van koördinate, die kies van die adres, of van ‘n lys gunstelinge), en ‘n roete word in ‘n japtrap bereken. Die gebruiker kan kies of die roete die kortste pad of die kortste tyd moet neem. Indien daar van die roete afgewyk word, word ‘n nuwe roete na die bestemming binne ‘n sekonde of wat bereken. Ander vervaardigers se GPS roetering-sagteware vat op tot 30 sekondes om te herbereken.
Een nadeel van die 200W is dat die gebruiker slegs een tussenpunt (“waypoint”) op ‘n roete kan stel (indien jy die sagteware wil forseer om die roete verby sekere punte te bereken). Eers wanneer daardie tussenpunt verbygegaan is, kan ‘n nuwe tussenpunt ingeprogrammeer word.
Ons beveel die Garmin reeks van GPS ontvangers aan, ook omdat die uitstekende Tracks4Africa kaarte vir hierdie handelsnaam ontwikkel is. Tracks4Africa konsentreer op roetes wat deur gebruikers gevolg word (die datastel word onder andere deur gebruikers saamgestel – hoe meer mense ‘n sekere pad ry (en die roete instuur), hoe beter is die kaart vir daardie roete). Hierdie datastel vind veral aftrek in die 4×4 gemeenskap (die meeste ander kaart-sagteware konsentreer op stedelike areas en skeep eerder die grondpaaie af), en is baie bekostigbaar (die hele Suid-Afrika vir net oor die R200).
Die Nuvi 200W kan gestel word om beide op skerm en deur die stem-aanwysings in Afrikaans met die gebruiker te kommunikeer. Nuwe datastelle (kaarte) word d.m.v. ‘n rekenaar met ‘n USB-verbinding na die GPS gestuur.
As enige Suidlander dit oorweeg om ‘n GPS ontvanger aan te skaf, beveel ons die Garmin Nuvi 200W aan.
Loodsuur-batterye (soos in ‘n motorvoertuig) is ‘n goedkoop (maar swaar) manier om energie te stoor. Die drie verskillende tipes loodsuur-batterye wat gewoonlik in voertuie en son-installasies gebruik word, is die volgende: gewone motorbatterye, “deep-cycle” batterye, en “high-cycle” batterye.
Die laaste twee klasse werk op dieselfde beginsel as ‘n gewone motorbattery, maar word baie beter vervaardig. Hulle is ook gewoonlik baie duurder (twee tot drie maal die prys van ‘n motorbattery). “Deep-cycle” batterye kan verder ontlaai word sonder skade, terwyl “high-cycle” batterye spesiaal gebou word om hoë strome vir relatief kort tye te lewer.
‘n Motorbattery word gemaak om vir kort tye hoë stroom te lewer (wanneer die aansitter van die voertuig gedraai word), maar nie te diep ontlaai te word nie – tipies nooit onder 80% van kapasiteit nie (sodra die voertuig se enjin begin loop word die battery weer herlaai). Wanneer ‘n motorbattery twee of drie keer diep ontlaai word, is die battery baiemaal daarmee heen.
In teenstelling hiermee is ‘n “deep-cycle” battery spesiaal ontwerp om op tot 70% van sy kapasiteit te lewer voor ‘n herlaai nodig is (d.w.s. ontlaai tot slegs 30% kapasiteit). Die tipiese gebruik vir ‘n “deep-cycle” battery is om relatief lae stroom vir lang tye te lewer – soos byvoorbeeld ‘n radio of vrieskas in ‘n voertuig.
Die derde klas battery, “high-cycle” batterye, word tipies in rugsteun-kragbronne vir rekenaarstelsels gebruik. Hierdie batterye is spesiaal ontwerp om vir kort tye (enkele ure) hoë stroom te lewer, soos bv. tydens ‘n kragonderbreking. Hierdie battery kan egter ook dieper ontlaai word as ‘n motorbattery.
Dit is ook belangrik om te onthou dat dit nadelig kan wees om batterye van die verskillende klasse te meng. Die regte manier om batterye te kies is om na jou vereiste te kyk, en die korrekte battery(e) te koop, al is dit R100 duurder as die “ander” tipe.
Baie eienaars van vierwieltrek-voertuie is nie seker oor wat ‘n ewenaarslot doen, en jou toelaat om te doen nie. Hier is ‘n kort opsomming:
‘n Voertuig se ewenaar (“diff”, “differential”) sit tussen die linker en regterwiel (soms ingebou in die ratkas, soos op voorwielaangedrewe voertuie), en laat die linker- en regterwiele toe om teen verskillende snelhede te draai. Dis belangrik vir wanneer ‘n voertuig om ‘n draai gaan (die buitenste wiel maak meer omwentelinge as die binnewiel).
Een van die newe-effekte van ‘n ewenaar is dat die wiel met die minste weerstand (“traction”) meeste van die krag kry. Dit kan op ‘n gewone 2 wiel aangedrewe voertuig gedemonstreer word deur een gedrewe wiel met ‘n domkrag op te lig en die voertuig in rat te sit. Die wiel draai vrylik, maar die voertuig staan stil (op die ander drie wiele).
Dieselfde beginsel geld tussen voor en agter op permanente 4×4 voertuie. Sulke voertuie het gewoonlik ‘n “sentrale ewenaarslot” wat die verhouding krag wat vorentoe en agtertoe gaan, sluit (gewoonlik in ‘n 50/50 verhouding). As een wiel in gladde modder staan of van die grond lig, sou die voertuig onder normale omstandighede gaan staan, maar deur die sentrale slot te aktiveer, kan die stel wiele wat albei op die grond is, die voertuig deur die hindernis trek of stoot.
Voertuie sonder permanente 4×4 het baie maal “locking hubs” op die voorwiele. Dit moet nie met ewenaarslotte verwar word nie – die “locking hubs” ontkoppel net die wiel self van die voorste ewenaar – die doel hiervan is om te voorkom dat (tydens 2×4 gebruik) die hele voorste ewenaar en deel van die oordragratkas (“transfer gearbox”) die hele tyd draai (dit verminder petrolverbruik effens, en ook slytasie).
‘n Voertuig met ‘n sentrale ewenaarslot (of nie-permanente 4×4 (“selectable 4×4″)) kan gaan staan wanneer een wiel voor EN een wiel agter van die grond af is – die 4×4 manne praat van ‘n “cross-axle”. Selfs die sentrale ewenaarslot help nie veel in hierdie situasie nie, die enigste oplossings is ‘n ewenaarslot (voor, agter of albei), momentum om deur die hindernis te kom, of ‘n “recovery” operasie.
In ‘n “cross-axle” hindernis, indien die voertuig met ‘n ewenaarslot (bv. agter) toegerus is, kan die bestuurder die slot aktiveer, wat beteken die linker- en regteragterwiele draai ewe vinnig en kry elk helfte van die krag. Indien een van die twee wiele die grond verlaat, sal die ander wiel steeds krag ontvang en die voertuig deur die hindernis kry.
Baiemaal is dit moontlik om net vinnig genoeg deur die hindernis te ry sodat die momentum van die voertuig dit deur die “cross-axle” situasie dra. Dit kan egter gevaarlik wees, in welke geval ‘n “recovery” operasie nodig is. Soms is dit so maklik soos om ‘n paar manne bv. op die buffer te laat staan, om genoeg gewig op die wiel wat in die lug draai, te kry om weer die grond te raak en dus deur die hindernis te kom. Soms is dit nodig om die teenoorgestelde hoek van die voertuig met iets soos ‘n “highlift jack” op te lig tot die oorstaande wiel weer grond raak.
‘n “Cross-axle” hindernis is die een hindernis waar ‘n 2×4 voertuig MET ewenaarslot beter werk as ‘n 4×4 voertuig sonder ewenaarslot.
Min voertuie het ewenaarslotte voor EN agter. Voorbeelde is die nuwe basiese Land Cruiser en die Mercedes-Benz Geländewagen. Daar is egter nie veel situasies waar ‘n ewenaarslot voor EN agter nodig is nie. Nuwer voertuie kom baiemaal uit met “traction control”, waar elektronika die plek van die ewenaarslot inneem (en die wiel wat los draai, identifiseer en m.b.v. die ABS stelsel rem). Die nadeel van elektroniese beheer is dat die een wiel eers moet begin los draai voordat dit aktiveer (soms gepaard met ‘n wolk stof).
Dit is ook belangrik om te onthou dat ‘n voertuig waarvan die ewenaarslot aan is, moeilik draai (die buitewiel sleep letterlik). As die voorste ewenaarslot aan is, wil die voertuig glad nie draai nie. Al draai jy die stuurwiel, die voertuig hou aan reguit beweeg. Dit kan ‘n veiligheidsrisiko inhou.
Enigiemand wat al gaan sit het en die sommetjies gemaak het oor onttrekking na ‘n plek van veiligheid tydens ‘n noodsituasie, het waarskynlik tot die gevolgtrekking gekom dat as jy wil onttrek saam met almal anders, die kanse van sukses baie skraal is. Die oplossing is een van die volgende twee opsies: Moenie tegelykertyd met almal anders probeer ry nie, of andersins, moenie op dieselfde paaie as al die ander probeer ry nie.
Ons weet hoe lyk die hoofweë onder normale omstandighede – ‘n motor met ‘n pap wiel kan verkeer vir ure ophou. Dink net hoe die paaie sal lyk as honderde duisende motoriste gelyk besluit om die stad te verlaat (sien die finale onttrekking in die fliek “Deep Impact” vir ‘n voorbeeld). Toe die orkaan Katrina die kus aan die Golf van Mexiko getref het, was daar ongelooflike verkeersopeenhopings omdat almal gelyk probeer wegkom het, op dieselfde paaie (as wat hulle daagliks gebruik en ken).
Indien moontlik moet mens nie probeer om op die nippertjie weg te kom nie – dit gaan waarskynlik nie werk nie. Dis hoekom dit belangrik is om gereed te wees vir ‘n moontlike onttrekking – eerstens deur jou ingesteldheid (“mind-set”), en tweedens deur jou voorbereiding. Dit sal egter nie altyd moontlik wees om vooraf waarskuwing te hê nie, wat lei tot die tweede opsie – die “agterpaaie”.
Onthou, die onvoorbereides het moontlik nog nooit gedink oor onttrekking in ‘n krisis nie – hulle sal die pad wat hulle gewoonlik ry om uit die stad te kom, kies. Dis belangrik om vooraf kennis te neem van die alternatiewe paaie, en die beste is om fisies die pad te gaan ry (moenie net ‘n kaart of GPS vertrou nie). Grondpaaie gaan baie minder verkeer dra as die hoofweë in so ‘n situasie.
Dit is ook belangrik om ondervinding te hê met GPS ontvangers – moenie net een koop en dink jy hoef nie verder oor navigasie bekommerd te wees nie. Daar loop baie stories oor mense wat verdwaal en selfs verongeluk het a.g.v. GPS-foute (wat gebruikers foute en foutiewe elektroniese kaarte insluit). Hierdie reël geld vir meeste toerusting – kundigheid is meer werd as toerusting. Te veel mense dink hulle kan maar net geld op die toerusting spandeer – leer ken dit wat jy wil gebruik.
Een manier om jou GPS prakties te leer gebruik, is die “sport” van “Geocaching” (amper soos ‘n skattejag). Die idee is dat individue of organisasies ‘n “skat” iewers versteek, en die GPS posisie daarvan op die internet bekend maak. Die persoon wat die “skat” vind word op een of ander manier beloon, maar word ook versoek om iets agter te laat vir die volgende besoek.
Ons beoog om ‘n Suidlander-”geocache” spel aan die gang te sit, en die inligting op hierdie blad bekend te maak, om Suidlanders te help om hul GPS eenhede te bemeester (sien, dis opvoedkundig, ons doen dit nie vir die PRET nie!). Lewer asb. kommentaar as jy dit sal geniet.
Ons het ‘n bydrae van leser Baardman ontvang rakende alternatiewe energiebronne. Die bydrae is geredigeer vir lengte en om te konsentreer op sonpanele en batterye, soos tipies in 4×4 voertuie geïnstalleer word. Die res van die bydrae sal moontlik op ‘n later datum geplaas word. Die artikel oor alternatiewe energie is oorspronklik op die geselsforums van die Boerevryheid “Plaaswerf” gepubliseer.
Sonpanele kos in die orde van R 30 000 – R 50 000 per kilowatt (kW), wat dit onprakties maak om van Eskom krag na sonpanele te gaan vir ekonomiese redes. Sonpanele is egter ‘n opsie op plekke waar Eskom krag nie beskikbaar is nie. Omdat die sonpanele slegs gedurende die dag energie genereer (streng gesproke: omset van lig na elektrisiteit) het mens altyd ‘n manier nodig om die elektriese energie te stoor. Dit is tipies in die vorm van batterye, wat die koste van ‘n foto-voltaïese stelsel opjaag.
Omdat sonpanele en die gepaardgaande batterye so duur is, is dit belangrik om eerstens die energie-aanvraag so laag as moontlik te hou. Op voertue en kampeer-toerusting, moet daar so ver moontlik met 12V gewerk word. ‘n Omsetter (“inverter”) het verliese, en dit maak nie sin om bv. ‘n 220V ketel te gebruik indien ‘n 12V ketel in die plek daarvan gebruik kan word nie (vir ‘n 220V ketel moet die 12V van die battery omgesit word na 220V met gepaardgaande verliese).
As mens na iets soos ‘n 12V/220V ys/vrieskas kyk vir ‘n kampeerterrein of voertuig, is dit sinvol om die vrieskas te isoleer (meeste van die 12V vrieskassies kom met ‘n opsionele isolasieskerm), en om die ruite van die voertuig te tint (as die omgewingstemperatuur laer is, gebruik die vrieskas minder energie). Dis NOOIT ‘n goeie idee om ‘n vrieskas in direkte sonlig te laat werk nie. Sommige mense stel ook die vrieskastemperatuur hoër gedurende die nag.
Wanneer die energie-aanvraag geminimaliseer is, moet die totale verbruik bereken word, om die grootte van die batterye en sonpanele te kan bepaal. Batterye se kapasiteit word in ampere-uur (Ah) gespesifiseer. Mens wil ook nie die battery se volle kapasiteit gebruik nie, op “deep cycle” batterye is dit verkieslik om die battery nie meer as 70% pap te trek voor dit herlaai word nie. “Deep cycle” batterye is heelwat duurder as gewone motorbatterye, maar van baie beter gehalte.
Die energie-aanvraag word bereken deur die stroom (in ampere) met die tyd wat dit getrek word (in uur) te vermenigvuldig. As jou vrieskas bv. 4 ampere trek vir 15 minute in elke uur (die termostaat skakel die vrieskas outomaties aan en af), trek so ‘n vrieskas 24 Ah in ‘n 24 uur siklus (4 amp x 0.25 uur, x 24 ure siklus). As jy ‘n tweerigting radio het wat heeltyd 0.5 A trek, tel 12 Ah by (0.5 A x 24 ure siklus). In hierdie voorbeeld (radio en vrieskas) gaan die verbruik 36 Ah wees in ‘n 24 uur siklus, d.w.s. ‘n 105 Ah battery gaan vir twee dae hou (70% van ‘n 105 Ah battery is 73.5 Ah, of ongeveer twee maal 36 Ah).
Nou moet die grootte van die sonpaneel bereken word. Sonpanele se kapasiteit word in Watt gemeet, en hierdie syfers is gewoonlik redelik optimisties. Om na Ah om te sit, moet ons eers die paneel se stroom kapasiteit bereken. Dit is tipies die Watt-syfer/12 (Volt). ‘n 60 Watt paneel kan dus sowat 5 Ampere lewer. Onthou ook dat op ‘n goeie sonskyn somersdag, die paneel nie meer as vir ongeveer 6 ure sy volle kapasiteit sal lewer nie. Deur die stroom kapasiteit van die paneel met die aantal ure son te vermenigvuldig, kry ons weer ‘n Ah syfer. ‘n 60W paneel vir 6 ure laai die battery met omtrent 30 Ah (5 A x 6 h). Onthou ook dat ‘n battery met meer energie gelaai word as wat jy uitgetrek het (daar is altyd verliese – tweede wet van termodinamika).
In ons voorbeeld hierbo is ‘n 60W paneel dus nie genoeg om die battery te herlaai nie. En onthou dat daar nie elke dag son sal wees nie, so spaar kapasiteit sal ingebou moet word. Alhoewel ‘n 105 Ah battery voldoende is, sal twee batterye (moontlik twee 75Ah batterye in parallel) beter werk. ‘n 120 – 150 W sonpaneel (of panele) sal nodig wees vir die voorbeeld.
Wanneer mens die sommetjies maak om ‘n voertuig/woonwa van sonpanele te voorsien, maak ook voorsiening vir ‘n spanningsreguleerder (“solar voltage regulator”) om te voorkom dat die panele die battery oorlaai.
