Dit raak nou al ‘n “cliché” om te praat oor die misdaad situasie en dit wat daar agter is. Maar op die einde van die dag is dit tog belangrik vir gemeenskappe om met mekaar te gesels oor die effek wat misdaad het op elke persoon se alledaagse lewe. Ook is dit al oor en oor bewys dat die regerings instansies nie binne die vermoe is om misdaad in Suid-Afrika hok te slaan nie.
Daarom het dit nou tyd geword dat gemeenskappe self deur hulle eie optrede alles doen wat moontlik en binne die wet is om misdaad die hoof te bied. Dit is ook baie belangriker om eerder inisiatiewe te loods wat daarop gerig is om misdaad te voorkom, as om die skurke te vang na ‘n misdaad gepleeg is.
Dit is in die menslike natuur om te dink dat alles in orde is solank as wat hy of sy gemeenskap nie direk geraak is deur misdaad nie, maar dan wanneer daar wel ‘n misdaad plaasvind in sy direkte gemeenskap, vreeslik geskok te wees, en dan skielik iets te wil doen om dit aan te spreek. Ons moet werklik begin besef dat ons hier in Suid Afrika aan die bo-punt van misdaad statistiek in die wêreld is, ons kan nie net leef as of daar geen direkte bedreiging vir ons gesin is nie.
Die heel beste oplossing wat ons self kan doen is om deur die skakeling met ons direkte mense in ons omgewing Omgee-Groepe te vorm. Hierdie groepe se funksie is dan om op ‘n gereelde basis, met mekaar te vergader en moontlike gevare in ons direkte omgewing te identifiseer, en dan optrede in plek te stel sodat ons daardie moontlike gevare kan aanspreek VOOR dat iemand seer kry.
Sekuriteit is ook nie iets wat jy kan uitkontrakteur en dan daarvan vergeet nie, nee, dit is eerder iets wat ‘n lewensstyl moet word. Jy kan die beste sekuriteit stelsels in plek hê, maar as jy nie daagliks veilig “leef” nie, gaan jy net die alarm hoor terwyl jy beroof, aangerand of vermoor word. Daarom is dit van groot belang dat elke persoon hetsy of jy reeds direk deur misdaad geraak is of nie, betrokke moet raak. Dit is al oor en oor bewys dat wanneer ‘n gemeenskap in hulle eie omgewing ‘n bewustheid kweek vir veiligheid, en almal daarby betrokke raak, dat daardie gemeenskap ‘n baie kleiner kans het om deel te raak van misdaad statistiek.
Die menslike natuur skop natuurlik weer in wanneer daar geen misdaad plaasvind nie, om te dink die bedreiging is verslaan. Dit gee weer aanleiding tot ‘n verslapping van die bewustheids vlak van die mense, en dan gebeur dit wat almal gedink het sal “nooit” gebeur nie.
Ons moet nie net leer om misdadigers af te skrik nie, maar ook om so te leef dat ons nie vir die misdadigers iets ten toon stel wat hulle kan motiveer om ‘n misdaad te pleeg nie. Dit help nie jy dink jy is veiligheidsbewus, maar ry deur die strate met jou voertuig en jou beursie vol kontant, oop en bloot op die sitplak langs jou of in die voorruit van die voertuig nie.
Veiligheid strek dus veel verder as goeie veiligheidshekke, alarmstelsels en ‘n sekuriteitsmaatskappy. Dit begin by verantwoordelike persone wat begin dink en beplan, in groepe saam te werk, en die identifisering van alles wat kan aanleiding gee tot ‘n misdaad en dit op ‘n behoorlike wyse aan te spreek. Onthou ook dat veiligheid nie noodwendig geld hoef te kos nie.
Kom ons streef daarna om nie meer die slagoffers te wees nie, maar deur verantwoordelike optrede ons self en ons gemeenskappe te beveilig.
