Archive for the ‘Toerusting’ Category
Indien dit nodig is om vir ‘n lang periode in ‘n boskamp-situasie te oorleef, sal bewaring van brandstof ‘n belangrike rol speel. Of mens nou op gas, paraffien, etanol-jel of alkohol vertrou vir die voorsiening van hitte, indien vervanging nie beskikbaar is nie, sal daar spaarsamig te werk gegaan moet word met dit wat mens het.
Daar is natuurlik baie oplossings vir die probleem, soos die “Wonder Box” waarvan ons in ‘n vorige bydrae vertel het, of die konsep van “Thermos cooking” (soortgelyk aan die “Wonder Box”). In meeste van hierdie tegnieke is dit egter belangrik om die korrekte toerusting te hê, of ten minste te weet hoe om die toerusting te improviseer indien nodig. Die gebruik van die bogenoemde konsepte vereis ook ‘n sekere mate van beplanning (en dit help om die tegnieke in te oefen).
Hierdie toerusting en tegnieke kan help dat mens se voorraad brandstof baie langer hou as om dit op die konvensionele manier (wanneer hervoorsiening nie ‘n probleem is nie) te gebruik. Mens sal ook van die begin af moet probeer om hout ens. as brandstof te gebruik, sonder om die omgewing waar mens bly, kaal te stroop van enige brandstof (soos die gewoonte in Afrika is).
Son-kook-tegnieke (“solar cooking”) is ‘n handige alternatief. Hier is ‘n skakel na ‘n goeie hulpbron oor die onderwerp.
Indien jy dus van die oortuiging is dat ‘n langtermyn kampeeruitstappie ‘n moontlikheid in ons toekoms is, nou is die tyd om te begin voorsiening maak.
Leser Melanie het vir ons geskryf om te sê sy het so ‘n dehidreerder, en dat die masjien besonder goed werk. Sy berig dat dit omtrent enige vrugte of groente kan droog. Melanie sê ook dat dit baie goed werk as die vrugte eers met strooisuiker besprinkel word (voordat jy dit droog).
Met die 4×4- en buitelewe-industrie wat onlangs baie gewild geraak het, is kampeer-toerusting nie goekoop nie, en met die finansiële toestand waarin meeste van ons mense hulself bevind, is dit baiemaal moeilik om goed voor te berei.
Hierdie webwerf bevat HOPE inligting oor tuisgemaakte kampeertoerusting. Let op die skakels in die kieslys op linkerhand.
Leser(es) Chantel het ons laat weet dat sy son-lanterns by Checkers (Pretoria) raakgeloop het teen R139 stuk.
Sy het ook navraag gedoen oor dehidreerders, Verimark verkoop nie so ‘n produk nie, maar TEVO wel. Die produk behoort dus by winkels soos Game en Dion beskikbaar te wees. Volgens die verkoopspersoneel kan dit selfs vleis droog in sowat 9 ure. Chantel sê sy hoop om dit binnekort self te probeer.
Ons sien uit daarna om weer van Chantel te hoor met terugvoer oor die werking van die produk.
In Engeland is daar ‘n liefdadigheidsorganisasie genaamd “The Shelterbox Trust” wat toerusting aan vlugtelinge verskaf. Hulle “produk” word die Shelterbox genoem, en bevat toerusting (nie kos nie) wat op tot 10 mense vir op tot 6 maande aan die gang kan hou.
Sien hierdie skakel vir ‘n illustrasie van die inhoud van die Shelterbox. Ongelukkig is die Shelterbox nie kommersieel beskikbaar nie, maar dit kan nogal ‘n handige item agter op ‘n bakkie of in ‘n sleepwa wees! Gebruik die inhoud om te sien of JOU voorbereiding nie dalk iets krities kort nie.
Hier is sommer vier stukkies terugvoer ontvang van “bostokkelos”. Ons plaas dit (amper) onveranderd. Dankie!
———
‘n Goeie en een van die belangrikste beleggings wat jy op die stadium kan maak is ‘n “bullet proof vest”. Veral vir die vrouens en kinders. Die manne wat voor gaan vat moet aan so iets dink dit kan jou lewe meer as een keer red. Kontak jou naaste gun shop vir pryse en keuses.
Nota van Redakteur: ‘n Koeëlvaste baadjie is ‘n duur stuk toerusting, en (een of meer) kan moontlik ‘n gesamentlike aankoop in ‘n omgee-groep wees. Dan sal dit help as die baadjie effens verstelbaar is, omdat dit deur verskillende persone gedra sal word.
———
Pick & Pay het ‘n wonderlike reeks water suiwerings toestelle en bottels met filters in vir veilige suiwering. Die reeks word deur Brita vervaardig. Die waterbottels het n stewige en doeltreffende filter in en kos maar R78. Saam kan jy ook water suiwerings tablette koop wat maar R30 ‘n pakkie kos van twaalf tablette. Een tablet suiwer een liter water.
———
Almal kyk “Survivor”, hulle verkoop daai magnesium en flint vuuraanstekers wat jou maande kan hou. Dit kos maar 90 rand. Saam met dit kan jy ook “fuel tablets” koop (soos in die ou weermag “rat packs”). Moenie ou teesakkies weggooi nie, gooi dit in n glas fles met paraffien in en voila!! jy het jou eie Blitz gemaak. Een tee sakkie steek ‘n vuur aan.
———
‘n Aanbeveling is die Energizer kop flitsies wat die rooi liggies saam met die twee wit led liggies in het, rooi sien mens nie van ver af in die aand nie, en versteur ook nie jou nagsig nie. Goed vir as jy nie raakgesien wil word nie en jy het lig nodig. Gaan so veel as moontlik met LED flitse, hulle battery lewe is min of meer 50 ure as hy aaneen skyn, briljant.
Ons kry nou meer gereeld bydraes van leser bostokkelos. In sy nuutste pos noem hy dat hy ‘n demonstrasie van “anti smash-&-grab film” (‘n lagie polikarbonaat wat op jou motor se ruite geplak word, gewoonlik met ‘n effense tint) bygewoon het.
Hy kon die motor se ruit in die demonstrasie eers met die sewende hou breek (met ‘n verstelsleutel (“shifting spanner”). Enigiemand wat al in so ‘n situasie was, sal kan getuig dat hulle jou ruit breek, jou selfoon/skootrekenaar steel, en wegkom binne enkele sekondes.
Hierdie film gee aan jou ‘n bietjie ekstra tyd, sowel as die byvoordeel dat kriminele nie maklik in jou voertuig kan insien met getinte ruite nie. Dit kan ook jou lewe red in die geval waar ‘n baksteen langs die pad deur jou ruit gegooi word.
Onthou egter dat voorruite volgens wet nie getint mag word nie.
Leser “bostokkelos” se terugvoer oor buitebandherstel:
‘n Vinnige noodherstel vir ‘n gat in ‘n buiteband is ‘n “self tapping screw” wat gom gesmeer word en in die gat ingedraai word.
‘n Ander handige stukkie noodtoerusting is ‘n kort buigbare pypie met twee klep-verbindings (soos wat op ‘n botteltjie “Tyre Weld” voorkom), wat jou toelaat om die pap wiel met lug in die spaarwiel op te blaas.
Leser KobusV stel voor dat elkeen vir hom ‘n stelletjie koop om buitebande mee te herstel. Dis bedoel vir binnebandlose bande, en bestaan uit ‘n spesiale hand-”boor” waarmee jy eers die gat (deur bv. ‘n spyker veroorsaak) skoonmaak, en dan ‘n spesiale handvatsel waarmee die prop (‘n taai stuk rubber wat amper soos bruin “liquorice” lyk) in die gat geplaas word. Soms is daar ook ‘n gom in ‘n buisie wat aangewend moet word.
Die stelletjies is algemeen by buitelewe winkels beskikbaar, of in die voertuig afdeling van groot winkels soos Game.
Tesame daarmee is ‘n pomp ‘n noodsaaklikheid, pompe kom in handmodelle, voetmodelle of elektriese modelle. Onthou, as ‘n elektriese pomp R29 kos, kan dit nie van baie hoë gehalte wees nie! Dieselfde geld vir ander pompe.
‘n Kannetjie (of ‘n paar) “Tyre Weld” (wat in die band ingespuit word, en die lekkasie seël) is handig as die lekplek nie te groot is nie en daar moet haastig weer beweeg word. “Tyre Weld” is nie bedoel as ‘n permanente regmaak oplossing nie.
Leser IreneP het ‘n bydrae gestuur oor brandblussers: ‘n Klein brandblusser is belangrik vir elke tent in ‘n kamp-opset, veral as oop vlamme vir lig gebruik gaan word (paraffien lampe, lanterns of veral kerse).
Klein brandblussers is algemeen by buitelewe winkels verkrygbaar, en is ook ‘n goeie idee in enige voertuig.
