Archive for the ‘Toerusting Evaluasie Verslae’ Category

Leser MartinB het voorgestel dat ‘n bietjie “superglue” geskik is om ‘n lekplek in ‘n opblaasmatras mee reg te maak.

Hy noem ook dat ‘n half-opgeblaasde leë “papsak” (die blink plastiek/foelie houer binne in ‘n 5liter vrugtesap/wyn) wat in ‘n handdoek toegedraai is, goed werk as ‘n kussing.  Dis lig en klein (wanneer afgeblaas).

Oor die laaste paar jaar het lug-matrasse baie in gewildheid toegeneem, en is hulle algemeen in baie winkels beskikbaar.  Sommige modelle het ingeboude elektriese pompe, terwyl meeste ‘n hand- of voet-pomp nodig het om op te blaas.

Een van die nadele van lug-matrasse is dat hulle besonder maklik ‘n lekplek ontwikkel, en dat so ‘n lekplek baiemaal die lug-matras onbruikbaar maak.  Selfs matrasse wat slegs binnenshuis gebruik word, ontwikkel lekplekke (veld-gebruik stel die matras aan meer gevare, bv. duwweltjies, dorings of skerp klippe bloot).  Sulke lug-matrasse is ook baiemaal swaar en lomp.

Gereelde kampeerders verkies eerder opslaan-kampbeddens (“stretchers”), en moderne modelle is lig en stewig.  So ‘n kampbed is egter steeds fisies redelik groot en beter geskik vir gebruik in ‘n sleepwa of voertuig.

Die rugsak-alternatief vir op die grond slaap (of die ou dun (blou) skuim-velle (“foam mattresses”) wat gereeld deur stappers gebruik is), is die nuwe self-opblaas matrassies.  Een van hierdie matrasse is die “K-Way Guide Self Inflating Mattress” van Cape Union Mart.

Die self-opblaas matras is ‘n dun laag geperforeerde skuim (“foam”) wat in ‘n stewige “ripstop nylon” bedekking gehuisves is.  Die bedekking is grof en bied wrywing teen ‘n slaapsak om te keer dat die slaapsak op die bedekking gly.

Die matras is klein (1.83 m x 51cm), maar bied ‘n kompakte oplossing vir kampeerders.  Die skuim in die matras pers saam wanneer die matras opgerol word, en die matras rol in ‘n klein rolletjie op (in die voorsiende sakkie).  Teen net 600g is dit ‘n plesier om met ‘n rugsak saam te dra.

Wanneer die matras oopgerol word, word die lugklep oopgemaak, en die matras vir 10 minute laat staan.  In hierdie tyd sal die saamgeperste skuim uitsit, en om te gebruik word net een of twee longe vol lug in die matras ingeblaas en die klep toegemaak.

Alhoewel die matrassie redelik duur is (tans R560), is dit BAIE beter as om op die grond te slaap.  ‘n Tweede voordeel van die matras is die laag isolasie wat dit tussen jou en die grond verskaf, wat jou heelwat warmer laat slaap as direk op die grond.

‘n Matras en kussings is iets wat in baie “gryp-en-hol” rugsakke oorgesien word, maar indien mens ‘n inoefenings-naweek hou waar jy net uit jou rugsak leef, sal jy baie vinnig ‘n ekstra paar rand in die begroting soek om so ‘n matrassie aan te skaf.

Leser NicoV berig dat hy Glowsticks van ‘n plaaslike verspreider gebruik (www.glowstick.co.za) in oorlewingskampe wat hy vir skoliere aanbied.  Hy sê die prys is tussen R5 en R10, dit is in verskillende kleure beskikbaar.

Nota van Redakteur:  Soos in die oorspronklike verslag genoem, is die rakleeftyd van die produkte óf kort, óf onbekend.  Die prys is aantreklik, maar dit is dalk wys om die gloei-tyd te toets, sowel as die rakleeftyd.  Neem hierdie faktore in ag wanneer ‘n besluit geneem word.

Leser KobusV het ‘n bydrae gestuur oor Homemark se “Life time” flitse – gaan na Homemark en gebruik die soekfunksie met die term “torch”. Hy sê dis 2 flitse vir R99, en maak ‘n goeie geskenk uit. Die flits het nie batterye nodig nie – jy skud die flits en ‘n magneet wat deur ‘n spoel beweeg, wek die nodige energie op wat die flits laat werk.

Die flitse is impak- en waterbestand, en skyn lekker helder. KobusV noem verder dat hy nie van oop vlamme hou naby of in tente nie – dis ‘n resep vir moeilikheid (veral aangesien daar gerugte rondloop van defektiewe sitronella kerse wat “ontplof”).

GPS ontvangers kom in baie verskillende kleure en geure – en prysklasse. Die Garmin Nuvi 200W (vir “widescreen”) is ‘n goedkoop en baie veelsydige GPS ontvanger wat homself uitstekend van sy taak kwyt.

Daar is baie duurder modelle in die Garmin Nuvi reeks – soos bv. die groot Nuvi 760 (min of meer R6000), met heelwat meer funksies. Teen ongeveer R3000 is die Nuvi 200W baie meer bekostigbaar, en het die voordeel dat dit dieselfde elektroniese kaarte as die duurder modelle gebruik. Dit het ook dieselfde “touch-screen” waarmee die gebruiker die GPS bedryf.  Met ‘n interne battery-leeftyd van slegs 4 ure is hierdie GPS ontvanger definitief vir voertuig-gebruik bedoel (waar dit permanent aan die voertuig battery gekoppel is).

Die groter modelle se ekstra funksies is baie oulik – ‘n MP3/MP4 speler (jy kan flieks kyk op die goed), ‘n FM sender sodat die stem-aanwysings deur jou voertuig se radio kan speel, ‘n Bluetooth-verbinding (na bv. ‘n selfoon), ens. Maar dit kan as “luukshede” beskryf word, en nie almal kan die ekstra koste regverdig nie.

Die Nuvi 200W kom met die hele Suider-Afrika straatkaarte op ‘n voorafgelaaide SD-kaart (geheuekaart), die koste van hierdie straatkaarte indien dit afsonderlik gekoop word is ongeveer R1000.

Die Garmins se roeterings-algoritmes en datastelle word algemeen beskou as van die beste op die mark, en dis hier waar selfs die 200W uitblink. Die bestemming kan op verskillende maniere gekies word (bv. o.a. direk van die kaart af, deur die intik van koördinate, die kies van die adres, of van ‘n lys gunstelinge), en ‘n roete word in ‘n japtrap bereken. Die gebruiker kan kies of die roete die kortste pad of die kortste tyd moet neem. Indien daar van die roete afgewyk word, word ‘n nuwe roete na die bestemming binne ‘n sekonde of wat bereken. Ander vervaardigers se GPS roetering-sagteware vat op tot 30 sekondes om te herbereken.

Een nadeel van die 200W is dat die gebruiker slegs een tussenpunt (“waypoint”) op ‘n roete kan stel (indien jy die sagteware wil forseer om die roete verby sekere punte te bereken). Eers wanneer daardie tussenpunt verbygegaan is, kan ‘n nuwe tussenpunt ingeprogrammeer word.

Ons beveel die Garmin reeks van GPS ontvangers aan, ook omdat die uitstekende Tracks4Africa kaarte vir hierdie handelsnaam ontwikkel is. Tracks4Africa konsentreer op roetes wat deur gebruikers gevolg word (die datastel word onder andere deur gebruikers saamgestel – hoe meer mense ‘n sekere pad ry (en die roete instuur), hoe beter is die kaart vir daardie roete). Hierdie datastel vind veral aftrek in die 4×4 gemeenskap (die meeste ander kaart-sagteware konsentreer op stedelike areas en skeep eerder die grondpaaie af), en is baie bekostigbaar (die hele Suid-Afrika vir net oor die R200).

Die Nuvi 200W kan gestel word om beide op skerm en deur die stem-aanwysings in Afrikaans met die gebruiker te kommunikeer. Nuwe datastelle (kaarte) word d.m.v. ‘n rekenaar met ‘n USB-verbinding na die GPS gestuur.

As enige Suidlander dit oorweeg om ‘n GPS ontvanger aan te skaf, beveel ons die Garmin Nuvi 200W aan.

Leser Baardman het die volgende Toerusting Evaluasie Verslag (TEV) gestuur:

“Ek het onlangs by twee geleenthede die “lightsticks” (“cyalumes”, “lumosticks”) van die vervaardiger Coghlan’s getoets. Hierdie ligbronne is algemeen by kampeerwinkels beskikbaar, en Coghlan’s is ‘n vervaardiger van kampeer- en oorlewingstoerusting (hulle produkte is verpak in ‘n kenmerkende helder groen verpakking).

Daar is lokale verspreiders van soortgelyke produkte, maar op navraag het ek gevind die rakleeftyd van die ligbuise (“lightsticks”) (wat uit China kom en algemeen gebruik word deur kinders by skole by geleenthede in die aand) BAIE kort is (tipies minder as 6 maande), terwyl die Coghlan’s buise tipies ‘n 2 of 3 jaar rakleeftyd het. Koste is tipies omtrent R25 elk.

Die ligbuise word geaktiveer deur die (plastiek)buis te buig en die ligbuis te skud (dit meng twee chemiese stowwe wat dan lig afgee). Die Coghlan’s ligbuise gee ‘n buitengewoon helder lig af, en word verkoop as “12 ure lig”. Na 12 ure gee die ligbuis steeds lig af, maar BAIE dowwer (die lig uitset neem geleidelik af soos tyd verloop).

Ons het een van die ligbuise oopgesny en van die vloeistof op ons vel gesit. Ons het gevind dat sensitiewe velle ligweg op die chemiese vloeistof reageer – amper soos ‘n allergie. Wees dus maar versigtig.”

Nota van Redakteur: Coghlan’s se produkte is op hul webwerf http://www.coghlans.com/ beskikbaar. Ligbuise word onder andere gebruik deur scuba-duikers, militêre spanne (om bv. tydens gebou-beveiliging aan te dui watter kamers is reeds beveilig), en omdat dit so klein is, is dit maklik om ‘n paar in jou rugsak te hou.

Het jy ‘n bydrae om te maak oor ‘n spesifieke stuk toerusting? Bydraes word verwelkom – deel jou ondervinding met mede-Suidlanders.