‘n Gesin se huis is waar die moeder is
(Deur Naomi Müller)
In `n boek ‘Vroulike verwagtinge en Manlike Fieterjasies’ Geskryf deur: Isak de Villiers stel hy:
“`n Vrou is die een wat bepaal waar en hoe die huis is. `n Gesin se huis is waar die moeder is. Sy maak of breek die huis. Maar `n man moet daardie huis beskerm en van lewens-middele voorsien.”
Dis vir my `n pragtige stelling. Ons as vrouens se taak in hierdie wêreld is groter en baie belangriker as wat ons besef.
As jy weer moedeloos raak wanneer jy by die huis dalk moet sit met die nuwe baba, of `n deur nag met hom/haar moet worstel, of as jy `n werkende moeder is en die middag na werk lyk die huis asof `n orkaan dit getref het, die wasgoed moet gedoen word, tonne strykwerk lê en wag, die kinders moet gebad word, hulle huiswerk moet gedoen word, die huis moet aan die kant, skottelgoed moet gewas word, vloere moet skoon, gordyne en linne moet gewas en gestryk word, badkamers moet skoon, jou man/jou man en kinders moet kos kry, en dan verwag die lewensstyle van vandag dat jy `n inkomste moet verwerf op een of ander wyse. . . Dink net, wat sou van die huishouding geword het sonder jou! Maar net soos wat jy as vrou van kardinale balang vir die huishouding is, so is jou man se insettinge net so belangrik, omdat hy die broodwinner en die beskermer van die huishouding is. Soos die Woord sê: Die een kan nie sonder die ander nie!
Sal jy my verskoon as ek sug dat ek ook net eenmaal aan Christus se voete wou sit, soos, Maria? Sy het die goeie dinge gekies, het Jesus gesê.
Een ding is ek seker van; as daar in Christus se tyd tydskrifte en sielkundiges was, sou Maria nie aan een van hulle geskryf het nie? Sy het immers by die Meester Self geleer.
Wat my weer laat dink; dalk kan ons, deur net ons oë in gebed te sluit, ook aan Sy voete sit?
Dis `n kosbare seën wat ons het om aan Christus se voete te sit en met Hom praat. Die Eer hê om met Hom ons hartsbegeertes en hartsere te deel en weet dat Hy altyd daar is om na ons drome en hoopvolle harte te luister. As ons net kan leer om ons lewens ten volle in Sy hande neer te lê! Sonder om in te meng! Ek weet dit is moeilik, ons as mense wil soms NOU `n ding gedoen hê, en dit is nie noodwendig die tyd wanneer God dit aan jou wil gee nie en wanneer jy dan begin om dit uit Sy hande te wil neem en self te probeer uitsorteer. Wanneer dit gebeur dan vat dit gewoonlik net `n rapsie langer as wat dit sou vat en jou frustrasies raak net meer. Dis seker een van die moeilikste dinge om te oorbrug en reg te kry. Die enigste manier hoe ons dit gaan kan doen, gaan kniel voor Jesus se voete en vra vir Hom om jou die leiding te gee wat jy nodig het vir wat ookal belangrike taak jy het om te verrig. GLO my, dit is die ENIGSTE manier hoe jy moeilike tye gaan oorbrug.
God is nog altyd net waar Hy is, was en sal vir Ewig wees. Dit is JY wat jou van Hom af terug hou. Gaan kniel voor Sy voete en sluit jou oë in opregte gebed! Hy deursoek harte, nie dade en uiterlikke nie! Hy het jou immers geskep, Hy ken jou beter as wat jy jouself ken! Daar is NIKS wat jy vir Hom kan wegsteek nie! Hy weet klaar wat jou hartsbegeertes is en ken jou teëspoede en seer. Wees bereid om te leer uit jou foute, en teëspoede, hulle kom nie verniet oor ons paaie nie en dank Vader daarvoor, want selfs hulle het hy oor ons paaie gebring.
En nie alleen dit nie, maar ons roem ook in die verdrukkinge, omdat ons weet dat die verdrukking lydsaamheid werk, en die lydsaamheid beproefdheid en die beproefdheid hoop; en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons hardte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.
Romeine 5:3-5