Archive for the ‘Navigasie’ Category
In Suid-Afrika is ons alte bewus van wat die gevolge is wanneer ‘n komplekse stelsel daargestel word, en dan vir jare nie aangevul of onderhou word nie (Eskom se kragvoorsieningsnetwerk).
Hierdie berig in die Britse “Guardian” beweer dat die GPS (“Global Positioning System”) stelsel gevaar loop om deur dieselfde lot getref te word. Volgens die berig sukkel die Amerikaanse lugmag (wat die GPS stelsel ontwikkel het en in beheer is van die stelsel) om GPS satelliete te vervaardig, o.a. as gevolg van subkontrakteur probleme.
‘n Verslag aan die Amerikaanse Kongres stel dit dat daar ‘n moontlikheid bestaan dat die stelsel kan begin faal, so vroeg as 2010 reeds, met nadelige gevolge vir beide siviele en militere gebruikers.
Vir diegene wat belangstel in sterrekyk, hier is ‘n skakel na ‘n “aanlyn planetarium”. Die program laat jou toe om jou posisie op die aardbol in te sleutel, sowel as die tyd. Jy kan ook konstellasies “aanskakel”, wat dan wys watter sterre aan watter konstellasie behoort.
Al stel jy nie in sterrekyk belang nie, is navigasie met behulp van die sterre ‘n handige stukkie kennis om te hê. Meeste mense weet van die Suiderkruis, baie mense weet hoe om rigting te bepaal met behulp van die Suiderkruis. Op hierdie webwerf kan jy nou seker maak jy kan die Suiderkruis uitken. Terloops, die Suiderkruis is nie altyd sigbaar nie, so maak seker jy kan rigting bepaal met ten minse een meer konstellasie.
Skakel: Neave Planetarium
Uit die vorige leidraad het ons drie letters gekry. Onthou, hierdie is die “Boerehelde” skattejag, so die eerste leidraad het iets met ‘n Boereheld te doen gehad (so weet jy jy is op die regte pad). Hierdie letters moet nou verwerk word om die koordinaat van die tweede tussenpunt te verkry.
Kom ons noem hierdie letters A, B en C. Verkry nou die syferwaardes vir hierdie letters (A=1, B=2, J=10, O=15, T=20 ens). Ons gaan verder met die syfers werk (toemaar, daar sal ‘n voorbeeld volg).
Maak w die syferwaarde van letter 1.
Maak x die waarde van (syferwaarde van letter 1 – syferwaarde van letter 2).
Maak y die helfte van die syferwaarde van letter 2.
Maak z ‘n kwart van die syferwaarde van letter 3 (d.w.s. letter 3 gedeel deur 4).
Die koordinaat waar die tweede leidraad gekry kan word, is:
25 xx’x8.yx” S 28 w’yz.6y” E
Voorbeeld: Kom ons sê die letters was HFP. Dan is die syferwaardes 8, 6 en 16. w = 8. x = 8-6 = 2. y = 6/2 = 3. z = 16/4 = 4. Die voorbeeld koordinaat is dan 25 22’28.32″ S en 28 08’34.63″ E. Let wel dis net ‘n voorbeeld!
By hierdie punt (dis nodig om ‘n te parkeer en so ‘n klein entjie te stap) sal jy iets vind wat ‘n tweede held in ons geskiedenis herdenk. Jy sal weet jy is op die regte plek as ‘n standbeeld van die persoon vir jou kyk (met medaljes op die bors). Hierdie persoon het ‘n leuse gehad wat uit die Bybel kom, dit staan laer af geskryf. Die Skrif-verwysing bevat 3 syfers, dit is leidraad nommer twee (as die verwysing bv. 2 Kronieke 7:14 is, is die tweede leidraad die syfers 2, 7 en 14).
Hier is die eerste leidraad in die Suidlanders se eerste GPS-skattejag…
Die ko-ordinate vir die eerste leidraad is:
25º40’07.8″ S 28º00’45.2″ E
By hierdie punt, kyk reg suid. Dit is ‘n ingang net af van die pad af. Oor die ingang is daar ‘n bord met ‘n naam (drie woorde). Die inligting om te versamel is die eerste letters van die drie woorde. Byvoorbeeld: As die naam “Jan Smuts Museum” is (dit is nie), dan is die leidraad “JSM”. Hierdie letters gaan in die volgende leidraad gebruik word.
Ons is amper gereed om ons eerste navigasie-skattejag (“geocache”) af te skop! Ongelukkig vir die Kapenaars gaan hierdie een in Gauteng afspeel (Pretoria omgewing). Die tema van die skattejag sal “Boerehelde” wees. Hou hierdie spasie dop vir die eerste leidrade.
Die skattejag sal vereis dat die skattejagter 3 bestemmings sal moet besoek. Op elk van die eerste twee bestemmings sal leidrade gevind word wat, saam met die aanwysings, die derde en finale bestemming sal openbaar. ‘n GPS sal nodig wees om die leidrade te volg. ‘n Gewone padvoertuig sal voldoende wees om die skat te vind.
Die idee is om die skat te gaan op-eis, en te vervang met ‘n soortgelyke skat vir die volgende jagter. Skattejagters moet voorberei deur ‘n “skat” ter waarde van tussen R100 en R200 gereed te hê om die skat wat hulle op-eis, te vervang. Die skat sal in ‘n staal trommeltjie weggesteek wees, wat ongeveer 300mm x 250mm x 150mm groot is. Daar sal ‘n logboek en pen in die trommel wees en suksesvolle jagters word versoek om die datum, hulle naam, beskrywing van die opgeeisde skat en die vervanging-skat te log. Die trommel sal gereeld nagegaan word om die vordering te meet.
Die skatte moet verkieslik Suidlanders-geörienteer wees (asseblief, NIE 10 blikkies boeliebief nie!). Gebruik verbeelding en maak dit lekker vir die volgende jagter. Nog voorbeelde van slegte skatte sal wees enigiets wat onwettig is, of ‘n lisensie benodig (dus geen ammunisie, of gekopieerde sagteware of videos), terwyl goeie skatte sal wees boeke (bv. kampresepte), DVDs (soos bv. 4×4 DVDs), kampeertoerusting, 4×4 toerusting, ens. Onthou die afmetings van die trommeltjie!
Ons doen ook ‘n beroep op Suidlanders in verskillende gebiede om hul eie navigasie-skattejagte aan die gang te sit. Stuur ‘n e-pos met die detail, dan plaas ons dit (‘n skattejag hoef nie veelvuldige bestemmings te hê nie). Noem asb. as die skattejag ‘n 4×4 voertuig vereis.
GPS ontvangers kom in baie verskillende kleure en geure – en prysklasse. Die Garmin Nuvi 200W (vir “widescreen”) is ‘n goedkoop en baie veelsydige GPS ontvanger wat homself uitstekend van sy taak kwyt.
Daar is baie duurder modelle in die Garmin Nuvi reeks – soos bv. die groot Nuvi 760 (min of meer R6000), met heelwat meer funksies. Teen ongeveer R3000 is die Nuvi 200W baie meer bekostigbaar, en het die voordeel dat dit dieselfde elektroniese kaarte as die duurder modelle gebruik. Dit het ook dieselfde “touch-screen” waarmee die gebruiker die GPS bedryf. Met ‘n interne battery-leeftyd van slegs 4 ure is hierdie GPS ontvanger definitief vir voertuig-gebruik bedoel (waar dit permanent aan die voertuig battery gekoppel is).
Die groter modelle se ekstra funksies is baie oulik – ‘n MP3/MP4 speler (jy kan flieks kyk op die goed), ‘n FM sender sodat die stem-aanwysings deur jou voertuig se radio kan speel, ‘n Bluetooth-verbinding (na bv. ‘n selfoon), ens. Maar dit kan as “luukshede” beskryf word, en nie almal kan die ekstra koste regverdig nie.
Die Nuvi 200W kom met die hele Suider-Afrika straatkaarte op ‘n voorafgelaaide SD-kaart (geheuekaart), die koste van hierdie straatkaarte indien dit afsonderlik gekoop word is ongeveer R1000.
Die Garmins se roeterings-algoritmes en datastelle word algemeen beskou as van die beste op die mark, en dis hier waar selfs die 200W uitblink. Die bestemming kan op verskillende maniere gekies word (bv. o.a. direk van die kaart af, deur die intik van koördinate, die kies van die adres, of van ‘n lys gunstelinge), en ‘n roete word in ‘n japtrap bereken. Die gebruiker kan kies of die roete die kortste pad of die kortste tyd moet neem. Indien daar van die roete afgewyk word, word ‘n nuwe roete na die bestemming binne ‘n sekonde of wat bereken. Ander vervaardigers se GPS roetering-sagteware vat op tot 30 sekondes om te herbereken.
Een nadeel van die 200W is dat die gebruiker slegs een tussenpunt (“waypoint”) op ‘n roete kan stel (indien jy die sagteware wil forseer om die roete verby sekere punte te bereken). Eers wanneer daardie tussenpunt verbygegaan is, kan ‘n nuwe tussenpunt ingeprogrammeer word.
Ons beveel die Garmin reeks van GPS ontvangers aan, ook omdat die uitstekende Tracks4Africa kaarte vir hierdie handelsnaam ontwikkel is. Tracks4Africa konsentreer op roetes wat deur gebruikers gevolg word (die datastel word onder andere deur gebruikers saamgestel – hoe meer mense ‘n sekere pad ry (en die roete instuur), hoe beter is die kaart vir daardie roete). Hierdie datastel vind veral aftrek in die 4×4 gemeenskap (die meeste ander kaart-sagteware konsentreer op stedelike areas en skeep eerder die grondpaaie af), en is baie bekostigbaar (die hele Suid-Afrika vir net oor die R200).
Die Nuvi 200W kan gestel word om beide op skerm en deur die stem-aanwysings in Afrikaans met die gebruiker te kommunikeer. Nuwe datastelle (kaarte) word d.m.v. ‘n rekenaar met ‘n USB-verbinding na die GPS gestuur.
As enige Suidlander dit oorweeg om ‘n GPS ontvanger aan te skaf, beveel ons die Garmin Nuvi 200W aan.
Leser “Dommie” het in kommentaar gevra of GPS toestelle steeds sal werk na ‘n kragonderbreking, en die kommer uitgespreek oor voedselvoorraad wat weggesteek is en dan nie weer gekry word nie. Hier is ‘n kort verduideliking van hoe GPS ontvangers werk…
Die GPS (“Global Positioning System”) bestaan uit ‘n klomp (meer as 24) satelliete wat heeltyd seine uitsaai. Hierdie seine word deur die GPS ontvanger ontvang (die GPS saai niks self uit nie), en hierdeur word die posisie van die ontvanger bereken. Die ontvanger het seine van minimum 3 satelliete nodig, verkieslik 4 of meer.
Die seine wat van die satelliete ontvang word, bevat ‘n ongelooflik akkurate tyd-merk (“time stamp”). Die ontvanger weet presies waar elke satelliet op enige gegewe stadium behoort te wees, en deur die verskil in tyd-inligting van die verskillende ontvangde seine te verwerk, kan die ontvanger bereken hoe ver dit van elkeen van die satelliete is (en dus waar op die aarde die ontvanger is).
‘n GPS ontvanger werk van batterye af, en ‘n kragonderbreking (selfs wêreldwyd) sal geen invloed op die ontvanger hê nie, so lank as wat die ontvanger se batterye aanhou werk. Die enigste maniere waarop die GPS stelsel kan faal, is as iemand die satelliete vernietig, of as die Amerikaanse lugmag (eienaar van die GPS satelliete) die stelsel afskakel (hoogs onwaarskynlik aangesien meeste moderne vliegtuie GPS gebruik om te navigeer, insluitende Amerikaanse lugrederye).
Aan boord van die GPS satelliete is daar ‘n tweede, onafhanklike, meer akkurate GPS sender, wat vir die militêre GPS stelsel gebruik word. Die Amerikaanse weermag KAN dus tegnies die burgerlike GPS stelsel afskakel sonder om hulleself in die voet te skiet.
So, wees nie bekommerd oor GPS werking na ‘n kragonderbreking nie. Sorg net dat jy ‘n manier het om die ontvanger se batterye te herlaai (as dit nie van jou voertuig se battery af werk nie).
Enigiemand wat al gaan sit het en die sommetjies gemaak het oor onttrekking na ‘n plek van veiligheid tydens ‘n noodsituasie, het waarskynlik tot die gevolgtrekking gekom dat as jy wil onttrek saam met almal anders, die kanse van sukses baie skraal is. Die oplossing is een van die volgende twee opsies: Moenie tegelykertyd met almal anders probeer ry nie, of andersins, moenie op dieselfde paaie as al die ander probeer ry nie.
Ons weet hoe lyk die hoofweë onder normale omstandighede – ‘n motor met ‘n pap wiel kan verkeer vir ure ophou. Dink net hoe die paaie sal lyk as honderde duisende motoriste gelyk besluit om die stad te verlaat (sien die finale onttrekking in die fliek “Deep Impact” vir ‘n voorbeeld). Toe die orkaan Katrina die kus aan die Golf van Mexiko getref het, was daar ongelooflike verkeersopeenhopings omdat almal gelyk probeer wegkom het, op dieselfde paaie (as wat hulle daagliks gebruik en ken).
Indien moontlik moet mens nie probeer om op die nippertjie weg te kom nie – dit gaan waarskynlik nie werk nie. Dis hoekom dit belangrik is om gereed te wees vir ‘n moontlike onttrekking – eerstens deur jou ingesteldheid (“mind-set”), en tweedens deur jou voorbereiding. Dit sal egter nie altyd moontlik wees om vooraf waarskuwing te hê nie, wat lei tot die tweede opsie – die “agterpaaie”.
Onthou, die onvoorbereides het moontlik nog nooit gedink oor onttrekking in ‘n krisis nie – hulle sal die pad wat hulle gewoonlik ry om uit die stad te kom, kies. Dis belangrik om vooraf kennis te neem van die alternatiewe paaie, en die beste is om fisies die pad te gaan ry (moenie net ‘n kaart of GPS vertrou nie). Grondpaaie gaan baie minder verkeer dra as die hoofweë in so ‘n situasie.
Dit is ook belangrik om ondervinding te hê met GPS ontvangers – moenie net een koop en dink jy hoef nie verder oor navigasie bekommerd te wees nie. Daar loop baie stories oor mense wat verdwaal en selfs verongeluk het a.g.v. GPS-foute (wat gebruikers foute en foutiewe elektroniese kaarte insluit). Hierdie reël geld vir meeste toerusting – kundigheid is meer werd as toerusting. Te veel mense dink hulle kan maar net geld op die toerusting spandeer – leer ken dit wat jy wil gebruik.
Een manier om jou GPS prakties te leer gebruik, is die “sport” van “Geocaching” (amper soos ‘n skattejag). Die idee is dat individue of organisasies ‘n “skat” iewers versteek, en die GPS posisie daarvan op die internet bekend maak. Die persoon wat die “skat” vind word op een of ander manier beloon, maar word ook versoek om iets agter te laat vir die volgende besoek.
Ons beoog om ‘n Suidlander-”geocache” spel aan die gang te sit, en die inligting op hierdie blad bekend te maak, om Suidlanders te help om hul GPS eenhede te bemeester (sien, dis opvoedkundig, ons doen dit nie vir die PRET nie!). Lewer asb. kommentaar as jy dit sal geniet.
