Archive for the ‘Kommunikasie’ Category

Ons kry ook van tyd tot tyd navrae oor opsies vir kommunikasie indien die infrastruktuur soos selfoonnetwerke of die landlyn netwerk nie meer werk nie.  Dit laat min opsies, naamlik satellietfone en radios.  As ons satellietfone uitskakel oor die hoë koste ($ per minuut) en die feit dat dit OOK ‘n infrastruktuur benodig, laat dit ons met tweerigting radios.

Langafstand kommunikasie met radios is moontlik, maar as dit triviaal was, sou daar nie ‘n mark vir produkte soos selfone of Skype gewees het nie.  Om verder as sig-afstand te praat, moet jy jou na die HF gedeelte (3-30 MHz) van die radiospektrum wend.  Hoe laer, hoe beter.  Met ‘n radiostel wat in die 80 meter band kan praat (ongeveer 3.5 MHz), kan mens rondom die wêreld praat.  Ongelukkig is die antenna ongeveer 40 meter lank (en ten minste 10 (verkieslik 20) meter hoog), en kan jy nie met iemand wat net 50km van jou af is, praat nie.  Jy het ‘n ANDER antenna (van ongeveer dieselfde lengte) nodig hiervoor.  En as jy met iemand in wat in ‘n ander rigting bly, wil praat, moet jy die hele antenna swaai of NOG een wat anders georienteer is, oprig.

Dis hoekom daar ‘n stokperdjie soos amateur-radio bestaan.  Radio-amateurs doen ontsettend baie moeite om hulle antennas perfek op te stel om hierdie tipe langafstand kommunikasie moontlik te maak.  Indien enigiemand belangstel om radio-kommunikasie hul stokperdjie te maak, beveel ons aan dat hulle die radio-amateur eksamen aflê (volgende geleentheid in Oktober) en kundig raak in die veld van HF kommunikasie.

Om die redes hierbo genoem, beveel ons aan dat Suidlanders wat in tweerigting radios belangstel, na VHF stelle kyk (soos in die heel eerste pos op hierdie blad).  Met VHF kan jy nie oor die horison praat nie, en met ‘n hand-stel kan jy gemaklik sowat 10+ kilometer praat.  Met die voertuig stel (25W, bv. TK7102) kan jy (met ‘n gewone voertuig “whip” antenna) tiene van kilometers praat, as jy die antenna ietwat verbeter (bietjie meer bonkig en langer) kan jy maklik oor die honderd kilometer praat, en as jy ‘n werklik uitstekende antenna bou (groot, veelvuldige elemente amper soos ‘n televisie antenna) kan jy etlike honderde kilometers praat.  Laasgenoemde antenna moet egter in die rigting van die ander stasie gewys word.

Omdat langafstand-radiokommunikasie (HF) so ‘n “moeilike” ding is om te doen, beveel ons dit nie vir die deursnee Suidlander aan nie.  VHF is baie makliker om goed te doen, so dis wat ons aanbeveel.  Ons sal egter graag van nog radio-amateurs wil hoor wat alreeds kundig is in die veld.

In ‘n volgende artikel sal ons sekuriteit oor die kommunikasie-netwerk gesels, onthou, op ‘n tweerigting-radio is jou uitsendings hoorbaar deur enigiemand met die nodige toerusting.

Ons open die nuwe Suidlanders blad met ‘n bydrae oor kommunikasie. Kommunikasie is van kardinale belang, veral in ‘n noodtoestand waar mens se lewe soms van kommunikasie kan afhang:

Indien ‘n noodtoestand ‘n (landwye) kragonderbreking insluit, is dit redelik om te aanvaar dat die selfoon-netwerk nie langer as ‘n paar uur of ‘n dag sal aanhou funksioneer nie. Die torings loop op rugsteun- krag, en behoort nog aktief te wees tydens ‘n kragonderbreking. Dit is egter nie gewaarborg dat die netwerk nog aktief sal wees nie, aangesien enige faling by die rekenaarsentrum wat die oproepe kanaliseer, ‘n totale netwerk-stilstand tot gevolg kan he.

Dit is belangrik om ‘n kommunikasie-plan in plek te he vir so ‘n noodtoestand. Een oplossing is tweerigting-radios. Daar is ‘n wye verskeidenheid van radios op die mark, van goedkoop tot onbekostigbaar. Oor die algemeen geld die reel “Jy kry waarvoor jy betaal”. Die verskillende radio-terme kan die gemiddelde man op straat ook HEELTEMAL deurmekaar maak, so hopelik werp die volgende paar paragrawe bietjie lig op die onderwerp.

Om mee te begin – die radiogolf-spektrum is opgedeel in verskillende “bande”, wat deur die frekwensie van die golwe bepaal word. Die drie bande van toepassing op tweerigting kommunikasie soos ons daarin belangstel, is HF (High frequency), VHF (Very high frequency), en UHF (Ultra high frequency). Die bande is onderskeidelik 3-30 MHz (HF), 30-300 MHz (VHF), en 300-3000 MHz (UHF). HF is die sogenaamde “kortgolf” – gewoonlik net van toepassing op radio-amateurs, en mense wat baie ver wil praat (soos vervoerkontrakteurs wat Afrika plat ry).

Die manier waarop die gebruiker se stem oorgedra word, word modulasie genoem. Voorbeelde is FM, AM en SSB. Enige modulasie tipe kan op enige van die bande gebruik word, maar HF is gewoonlik AM of SSB, VHF en UHF gebruik gewoonlik FM. FM is ‘n “nuwer” tegniek, en het minder geraas.

HF stelle het die voordeel dat hulle baie ver kan kommunikeer (omdat HF radiogolwe van die atmosfeer af terugkaats grond toe). Die nadeel is dat HF antennas besonder groot is (20 tot 40 meter lank is nie ongewoon nie). In teenstelling, kan VHF en UHF slegs “line-of-sight” kommunikeer. Die stelle is egter kleiner, en die antennas hanteerbaar.

Daar is goedkoop tweerigting radiotjies beskikbaar (bv. Zartek, Oregon Scientific en sommige Motorolas) wat nie lisensies benodig nie. Hierdie stelle praat in die UHF band, en saai baie lae-krag seine uit. Die bereik van hierdie radiotjies laat egter veel te wense oor. Die mees optimistiese spesifikasie praat van 10 km, maar dit is onder perfekte omstandighede (d.w.s. geen bome/geboue tussen radios). Pryse wissel van R600 per stel (van 2) tot R1200 per stel.

Alle radios behalwe die hierbo beskryf, moet gelisensieer word. ICASA hanteer radio-lisensies in Suid-Afrika, en die handelaar wat die radios verkoop, hanteer gewoonlik die lisensie-aansoek. ‘n Radio word vir ‘n spesifieke frekwensie gelisensieer. Radio-amateurs skryf ‘n eksamen, en word dan as PERSOON gelisensieer, en kan veelvuldige radios besit en gebruik.

Radios soos algemeen deur sekuriteitswagte gebruik (“walkie-talkies”) is gewoonlik VHF, maar UHF word soms gebruik. Hierdie stelletjies saai tipies 4W uit, met ‘n groter bereik (10 km behoort nie ‘n probleem te wees nie). Die (herlaaibare) Battery leeftyd is tipies 15 ure. Koste is in die omgewing van R1500-R2000 per radio. ‘n Voorbeeld van hierdie radios is die Kenwood TK-2207.

Mobiele VHF (soms UHF) radios (soos die Kenwood TK-7102) kan geprogrammeer word om met die handradios (soos bo beskryf) te praat. Hierdie stelletjies is tipies in ‘n voertuig (of op bote) gemonteer, en saai teen 25W uit. Op skepe (met lekker hoe maste) kry ‘n 25W VHF stel 100km (solank die antennas binne sig van mekaar is). Op seiljagte, sowat 10-15km (a.g.v. die kurwe van die aarde en omdat hul maste nie so hoog is nie). Pryse is tipies R2500-R3000 per radio.

In die 4×4 gemeenskap is 29 MHz AM stelle deesdae baie gewild, en die ou burgerband radios (“CBs”) het 27 MHz AM gebruik.

Ons beveel Kenwood produkte aan, omdat daar Suidlander-vriendelike besighede is wat die radios se frekwensies kan her-programmeer (gewoonlik word hulle deur die handelaar vooraf geprogrammeer). Hierdie radios is ook uitstekende kwaliteit (teen militere spesifikasie vervaardig).