Loodsuur-batterye (soos in ‘n motorvoertuig) is ‘n goedkoop (maar swaar) manier om energie te stoor. Die drie verskillende tipes loodsuur-batterye wat gewoonlik in voertuie en son-installasies gebruik word, is die volgende: gewone motorbatterye, “deep-cycle” batterye, en “high-cycle” batterye.
Die laaste twee klasse werk op dieselfde beginsel as ‘n gewone motorbattery, maar word baie beter vervaardig. Hulle is ook gewoonlik baie duurder (twee tot drie maal die prys van ‘n motorbattery). “Deep-cycle” batterye kan verder ontlaai word sonder skade, terwyl “high-cycle” batterye spesiaal gebou word om hoë strome vir relatief kort tye te lewer.
‘n Motorbattery word gemaak om vir kort tye hoë stroom te lewer (wanneer die aansitter van die voertuig gedraai word), maar nie te diep ontlaai te word nie – tipies nooit onder 80% van kapasiteit nie (sodra die voertuig se enjin begin loop word die battery weer herlaai). Wanneer ‘n motorbattery twee of drie keer diep ontlaai word, is die battery baiemaal daarmee heen.
In teenstelling hiermee is ‘n “deep-cycle” battery spesiaal ontwerp om op tot 70% van sy kapasiteit te lewer voor ‘n herlaai nodig is (d.w.s. ontlaai tot slegs 30% kapasiteit). Die tipiese gebruik vir ‘n “deep-cycle” battery is om relatief lae stroom vir lang tye te lewer – soos byvoorbeeld ‘n radio of vrieskas in ‘n voertuig.
Die derde klas battery, “high-cycle” batterye, word tipies in rugsteun-kragbronne vir rekenaarstelsels gebruik. Hierdie batterye is spesiaal ontwerp om vir kort tye (enkele ure) hoë stroom te lewer, soos bv. tydens ‘n kragonderbreking. Hierdie battery kan egter ook dieper ontlaai word as ‘n motorbattery.
Dit is ook belangrik om te onthou dat dit nadelig kan wees om batterye van die verskillende klasse te meng. Die regte manier om batterye te kies is om na jou vereiste te kyk, en die korrekte battery(e) te koop, al is dit R100 duurder as die “ander” tipe.
