Wie en wat is ‘n “Suidlander”?

Die naam “Suidlander” het sy oorsprong in die naam Suidland. Met die stigting van Suidland–Aksie ’n paar jaar gelde het Gustav Muller en verskeie vriende hulself vir drie dae lank in vas en gebed gaan afsonder in die Bosveld (Mabothe), om leiding van ons Vader in die hemel te vra. In hierdie drie dae het hulle baie Skrifte ontvang, maar twee Skrifte het uitgestaan, die eerste Skrif kom uit Jeremia 13. U kan dit gaan lees (die woord Suidlanders kom daarin voor); hier het die hemelse Vader vir hulle gewys wat die toestand van die Boerevolk is en dat hulle dit aan die Volk bekend moet maak, en hulle roep tot ’n hartsbekering en nie tot ’n bekering van die lippe nie.

Die tweede Skrif was Esegiël 20:45-49 (dit is `n profesie oor die toekoms). Die woord Suidland kom drie keer hierin voor, hierdie Skrif is op die derde dag ontvang. Verse 46 en 47 was van besondere belang. Daar, in afsondering, het die Suidlanders hul naam gekry.

Enige gelowige volksgenoot wat besef dat ons as ‘n Volk die weë van die HERE verlaat het, en wat (uit die Skrif) besef dat die toestand in ons land ‘n uitvloeisel hiervan is, en bekommerd hier oor is, kan hulleself Suidlanders noem. Suidlanders glo ook dat God ons nie vir altyd verstoot nie, maar dat Hy ons weer sal herstel in die mooi land wat hy aan ons Vaders by Bloedrivier beloof het (vergelyk Jesaja 60 en 61, Jesaja 57:14-21, Jesaja 40:1-11, Jesaja 12:1-6, Psalm 118, 1 Johannes 5:4, 2 Korintiërs 6:2, Handelinge 13:35-41, Johannes 14:1, Habakuk 1:5 en Habakuk 3:13, daar is egter nog vele meer).

Ons leuse is geneem uit die vierde strofe van die Stem van Suid-Afrika: “Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wereld vry“.

Die Suidlanders is normale mense met normale lewens, en verkondig geensins gewelddadige optrede om misdaad te bekamp nie, maar erken wel die reg om onsself te beskerm. Baie Suidlanders is van opinie dat die beste optrede wanneer die situasie dit vereis, onttrekking van brandpunte, na plekke van veiligheid. Ons is mense wat oortuig is dat ons geroep is tot die Volk se diens, daar is geen ekonomiese, politiese of enige ander persoonlike voordeel wat uit die saak getrek word nie. Lees self Jesaja 62:10.

Anders as wat die media ons wil laat glo, is die Suidlanders NIE ‘n ver-regse, ekstremistiese organisasie nie. Daar is geen skakels tussen die sogenaamde “Boeremag” en die Suidlanders nie (alhoewel die “Boeremag” aangeklaagdes vry is om hulself Suidlanders te noem!).

Dit is nie vergesog om te glo dat die onstabiele politiese en ekonomiese situasie in Suider-Afrika (inteendeel, internasionaal) baie maklik kan ontvlam in ‘n krisis-situasie nie. Ons het die onlangse geweld in Kenya en Pakistan gesien, die situasie in Zimbabwe versleg omtrent daagliks, en daar is ‘n wye verskeidenheid faktore wat kan lei tot anargie, of ‘n toestand waar mense vir hulleself moet sorg, in die land. Hierdie faktore sluit in politieke geweld, kragonderbrekings, ‘n epidemie (bv. Asiese voelgriep), ekonomiese ineenstorting, die afsterwe van ‘n politieke leier, of voedseltekorte.

In enige van die bostaande scenarios, kan dit voordelig wees as mense in hul huise voorbereid is om selfversorgend te wees vir ‘n tyd, en dit mag dalk nog ‘n beter opsie wees om tydelik na ‘n plek van veiligheid te onttrek. Hierdie tipe voorbereiding is wat die Suidlanders voorstaan.

Die ontwerp van hierdie web-blad gebruik die volgende simboliek en kleurskema: Die traandruppel verwys na Psalm 126, “die wat met trane saai, sal met gejubel maai”.

Die kleure sluit in: Koningsblou, ligblou, en oranje. Die koningsblou simboliseer God se koninklikheid (verwys na Eksodus 24:10). Die ligblou simboliseer die vrede, en die Lewende Water (die Heilige Gees). En die oranje simboliseer die ryp oes. Ander mindere kleure is groen (rus (Psalm 23:2) en genade) en wit (reiniging (Openbaring 7:14 en Jesaja 1:18) en oorwinning (Openbaring 3:5 en 6:2)).

Verskaf Kommentaar

E-pos (sal nie gepubliseer word nie)