Rapport 20 Desember 2009
Na aanleiding van die berig wat verlede week (13 Desember 2009) in die Rapport verskyn het waar die Rapport beweer het dat die Suidlanders “noue bande” het met ‘n groep mense wat gearresteer is vir onder andere die besit van onwettige wapens, het ons genoodsaak gevoel om die saak aan te spreek.
Gedurende die week was die Nasionale Onderleier Johann Le Roux met die Rapport in gesprek en het die Rapport ingestem om die Suidlanders aan te hoor en ‘n amptelike media verklaring van die Suidlanders te publiseer. Weens beperkte spasie moes die oorspronklike verklaring aangepas word.
Die verklaring soos gepubliseer in die RAPPORT is by die volgende skakel beskikbaar: Suidlander verklaring
Ons aanvaar ook dat die RAPPORT die verkorte weergawe geplaas het op so ‘n wyse dat die integriteit van die verklaring steeds behoue gebly het.
Ons wens hiermee dan ook die RAPPORT te bedank vir die positiewe samewerking wat ons vanaf hulle verkry het.
Ons heg egter hier onder die oorspronklike onveranderde verklaring aan vir u kennisname:
Die Redakteur
Rapport
17 Desember 2009
Verwys: Artikel in Rapport van 13 Desember 2009 “Regse nes op plaas gekry”
Met verwysing na die artikel deur u geplaas soos hier bo vermeld die volgende;
1. U verwys in die artikel dat die Suidlanders “noue bande” het met die Jessurun beweging.
a. Die Suidlanders het voor die plasing van die berig geen kennis gedra van die beweging nie.
b. Die Suidlanders het nog nooit enige amptelike of nie amptelike gesprekke met die groep gevoer om enige samewerking te bespreek nie
c. Die Suidlander Nasionale bestuur wens asseblief stawende bewyse vanaf Rapport te verkry rondom die bewering soos deur u gemaak is in die artikel.
2. Volgens die berig word daar die bewering gemaak dat die Suidlanders “Vrydag” met die Jessurun beweging sou “vergadering hou”
a. Ons veronderstel dat u na “Vrydag” verwys as die 11de Desember 2009
b. Die Nasionale Leier en Nasionale Onderleier is die enigste twee persone wat gemagtig is om met ander organisasies te vergader namens die Suidlanders
c. Beide die Nasionale Leier en Onderleier was in die Pretoria omgewing tydens die tydperk en sou dus geensins so vergadering kon bywoon nie.
d.Die Nasionale Leier was gedurende die laaste 2 maande op ‘n geskeduleerde toer deur die land met openbare vergaderings.
e. Die Provinsiale bestuurder in die Wes Kaap het ook geen kontak gehad met die groep nie en dra geensins kennis van enige geskeduleerde of ander vergadering met die groep nie. Die streeksleiers in CERES en in die res van die Wes Kaap dra ook geen kennis van die groep of enige reëlings vir so ‘n vergadering nie.
f. Dit is ook reeds bevestig dat na die beste van ons kennis geen van die Jesurun se lede die openbare vergadering van die Suidlanders in CERES bygewoon het verlede maand nie.
3. U noem in u artikel dat die Suidlanders het “bande met die Boeremag”
a. Die ontstaan van die Suidlanders was nadat die s.g. Boeremag reeds gevange geneem was.
b. Die terme “bande met” impliseer “samewerking ”. Daar bestaan geensins enige samewerking met die s.g. Boeremag nie.
c. Ons sal graag aan Rapport wil vra om die “bande” met die Boeremag beter te omskryf aangesien dit na ons mening daarop gerig is om skadelik te wees teenoor die Suidlanders.
Vanuit die artikel is dit baie duidelik dat die RAPPORT geensins enige moeite gedoen het om navraag te doen oor die Suidlanders nie, maar eerder gereageer het op persepsies wat voorgehou word.
Die Suidlanders het hulself nog altyd in die openbaar en deur middel van amptelike opgestelde beleid en per deklarasie uitgespreek teen geweld of enige verbreking van die landswette. Geen aksies buite die voorskrifte van die wette van Suid Afrika word enigsins goedgekeur of voorgehou nie.
Die Suidlanders is nie ‘n polities gedrewe organisasie nie, maar eerder ‘n groep bekommerde persone wat saamwerk om mense se veiligheid te verbeter in ‘n land waar wet en orde daagliks agteruit gaan. Dit is duidelik aan amptelike statistieke en media berigte dat Suid Afrika nie ‘n veilige land is vir enige van sy burgers nie. Daarom beywer die Suidlanders hulle om mense bewus te maak van die gevare in die samelewing en om planne binne die wette van die land voor te stel om mense aan te moedig om self verantwoordelikheid te neem vir hulle eie veiligheid en voortbestaan in Suid Afrika.
Die Suidlanders lewer slegs kommentaar op bewysbare gebeure binne die Suid Afrikaanse konteks wat ‘n invloed mag hê op veiligheid en stabiliteit in die land. Geen kommentaar word gelewer oor enige onderwerp waar die feite nie in die openbaar bewys kan word nie.
Die Suidlanders word baie goed ondersteun deur ‘n groot hoeveelheid bekommerde burgers van die land. Baie van die mense het reeds voordeel getrek deur die strukture en dan spesifiek die “omgee groepe”wat deur die Suidlanders daargestel is binne die gemeenskappe. Die groepe is daarop gerig om mense binne gemeenskappe byeen te bring en om dan saam te fokus op die mense se veiligheid binne groepverband.
Die Suidlanders se standpunte en ook die DEKLARASIE van wie en wat die Suidlanders is, is gepubliseer op ons amptelike webblad http://suidlanders.co.za vir openbare kennisname. Ook is daar ‘n amptelike artikel 21 maatskapy gestig om sodoende verantwoording te kan doen vir enige fondsinsamelings wat mag voortspruit vanuit die Suidlanders as organisasie.
Die Suidlanders is ook betrokke by gemeenskapsprojekte, so is daar bv. gedurende die eerste week van Desember 2000kg mieliemeel oorhandig aan Solidariteit se Helpende Hand vir verspreiding onder hulp behoewende mense in arm gemeenskappe.
Dit is duidelik dat die berig in die Rapport saamgestel is vir sensasie, en daarop gemik was om die regse kant van die politieke spektrum te minimaliseer en te verkleineer. Die “arsenaal” wapens is toe klaarblyklik ook net so paar gelisensieerde wapens en een aanvalswapen. (Die Suidlanders keur die besit van onwettige wapens ten sterkste af). Hierdie is duidelik onverantwoordelike verslaggewing deur die betrokke joernalis en RAPPORT.
Die Nasionale bestuur van die Suidlanders sowel as ons ondersteuners voel dat die Suidlanders erg tenagekom is met die publikasie van die skrywe en dat dit die organisasie skade berokken het. Daarom vra ons dat die RAPPORT ‘n regstelling sal plaas om die skade te beperk wat reeds gedoen is.
Die Nasionale bestuur van die Suidlanders versoek ook dat die Rapport in die toekoms eers met ‘n afgevaardigde van die Suidlanders sal kontak vir amptelike reaksie op enige publikasie waarby die Suidlanders betrek sou word.
Johann Le Roux
Nasionale Onderleier
Suidlanders
