Die meeste mense besef nie dat ons elke dag deur die media “gebreinspoel” word, eenvoudig deur die emosionele of gevoelswaarde van terme en woorde wat gebruik word nie. Dis natuurlik ‘n ou politieke laai, wat al vir baie jare gebruik word om jou opponente af te kraak.
Ons dink hier aan byvoorbeeld drie terme wat gebruik kan word om ‘n konserwatiewe persoon te beskryf. “Konserwatief” is ‘n redelik neutrale woord, ons verkies “Behoudend”, wat ‘n positiewe konnotasie het, en die liberalis sal van “Verkramp” praat (negatief).
‘n Ander uitstekende voorbeeld is die term “xenofobiese aanvalle”. Die woord xenofobie se kerne is “xeno” wat vreemdeling beteken, en “fobie” wat onredelike vrees beteken. Die implikasie is dat die aanvaller bang is vir die vreemdeling. Ons hier by Suidlander Redaksie is oortuig dat die gemiddelde aanvaller in die sg. xenofobiese aanvalle baie sterk sal aandring dat hy nie BANG is vir die vreemdeling nie, maar dat hy NIKS VAN HOM HOU NIE en hom nie daar wil hê nie (HEELTEMAL ‘n ander klem as wat die term impliseer).
Die bostaande tegnieke word by uitstek in die politieke retoriek van die Kommunistiese ideologie gevind. In die terme van die ou USSR, wat onder andere gepraat het van die “valiant red army” en die “decadent capitalist pigs” - beskrywings met waarde-terme om groepe te karakteriseer (terloops, beide beskrywings is onakkuraat).
Ons hoef onsself ook nie te beperk by die ou USSR om voorbeelde te kry nie - die ANC se nuusbrief is genoeg van ‘n bron van hierdie retoriek (om nie van hulle meer liberalistiese alliansie-vennote, Cosatu en die SAKP se literatuur te praat nie).
‘n Onlangse voorbeeld (voorheen op hierdie blad aangehaal) is waar die ANC die stelling maak: “South Africans are requested to do away with “the idolisation of the value system which sees individualism and material possessions as the pinnacle of success”.
Wat hierdie skrywer probeer bereik is om mense wat glo in beloning vir individuele prestasie (hierdie Redakteur is onbeskaamd een van hulle), as “minderwaardig” (in terme van karakter) uit te beeld. Die doel is om die kommunistiese ideaal van “almal is gelyk” te bevorder.
Hierdie uitkyk is natuurlik ongelooflik aantreklik vir mense wat nie wil of kan presteer nie. As ons almal gelyk beloon word, ongeag individuele prestasie, trek die nie-presteerder al die voordeel, terwyl die presteerder ingedoen word (en die dryfveer vir prestasie verloor). Dit is natuurlik dan ook ‘n fatale fout in die kommunistiese ideologie - die “ideale man” wat beskryf word, bestaan nie.