Radio Amateur Lisensie
Soos meeste Suidlanders bewus is, is dit onwettig om met ‘n radio van meer as ‘n paar honderd milliWatt te praat sonder ‘n toepaslike lisensie. Die goedkoop tweerigting radios wat by buitelewe winkels beskikbaar is (bv. Zartek, Oregon Scientific, en Motorola radios) se kraguitset is laag genoeg dat hulle nie lisensiëring benodig nie. Die reikafstand van hierdie radiotjies laat egter veel te wense oor.
Meer kragtige hand- of voertuigradios benodig ‘n lisensie. ‘n Alternatief vir iemand wat graag ‘n radiostel wil bedryf, is om die Radio Amateur Eksamen af te lê.
In Suid-Afrika is daar tans drie klasse van amateurlisensie, die Klas A1, A2, en Klas B lisensies. Die roepseine vir die onderskeidelike lisensies is ZS, ZR en ZU. Die laaste klas, Klas B, is spesifiek onlangs ingebring om dit makliker te maak om die stokperdjie te betree, en baie skoolkinders en radio-amateurs se vroue/meisies lê die Klas B lisensie af om ook die stokperdjie te kan beoefen. Onlangs is ‘n 9-jarige meisie onder klas B gelisensieer! Oor die afgelope jaar het ten minste 5 Suidlanders hulle amateur lisensies bekom, en daar is verskeie Suidlanders wat reeds etlike jare radio-amateurs is.
Daar is sekere beperkings op Klas B lisensiehouers, in terme van die kraguitset van die radios wat hulle mag gebruik (20W teenoor 100W vir klas A2 en 400W vir Klas A1), asook op die frekwensies waarop hulle mag praat (minder toegelate frekwensies as die ander twee klasse).
Indien u dus ‘n radio wil aanskaf (om bv. tussen voertuig en huis te kan praat), oorweeg dit om saam met u man/vrou die ZU (Klas B) lisensie af te lê - dis ‘n stokperdjie wat definitief oorlewingswaarde het!
Verdere inligting is beskikbaar by die webwerf van die Suid-Afrikaanse RadioLiga, die liggaam wat Radio Amateurs in Suid-Afrika verteenwoordig. Hierdie direkte skakel kan gevolg word om meer oor die Amateur Eksamen uit te vind.