Die meeste Suidlanders is nie bewus waar die term “Night of the Long Knives” vandaan kom nie. Die term verwys in die algemeen na optredes van wraak, en die bekendste voorbeeld is die gebeure aan die einde van Junie 1934, toe Adolf Hitler van ‘n aantal (blykbaar sowat 85) van sy politieke teenstanders (spesifiek lede van Ernst Rohm se Sturmabteilung) ontslae geraak het. Die operasie was ook bekend as “Operation Hummingbird” (Kolibri in Duits).
Die term is egter veel ouer as die Nazi bewind, maar die presiese oorsprong is onbekend. Die oorsprong mag die legende van Koning Arthur wees, maar dit is nie onteenseglik bewys nie.
Die term word steeds gebruik wanneer gebeure afspeel wat van ‘n politieke opponent ontslae raak. ‘n Onlangse Suid-Afrikaanse voorbeeld is een van die ANC leiers wat ‘n verwysing gemaak het na “Night of the Long Knives” kort nadat aangekondig is dat Mbeki vervang gaan word.
Ons doen ‘n beroep op alle Suidlanders om ASSEBLIEF enige inligting wat hulle deurstuur, akkuraat te doen. Ons het bv. berigte ontvang dat die betrokke ANC lid na Uhuru verwys het met ‘n uitspraak soos “Uhuru is here” (die ANC spreker het egter na “Night of the Long Knives” verwys, wat ook ‘n politieke betekenis het).
Dit beteken egter nie dat ons nou alle verwysings na hierdie tipe van terme as onskadelik beskou nie. Daar kan veel meer agter die openbare gebruik van hierdie terme steek. Voorbeelde is desensitering van mense na hierdie tipe verwysings, of ‘n toets om mense se reaksie op hierdie terme te sien, of selfs beplande boodskappe aan ondersteuners.
Om op te som: Hou maar jou oë en ore oop, en as jy iets sien/hoor wat in jou opinie op ons situasie van toepassing is, rapporteer dit asseblief deur middel van terugvoer op hierdie blad. Maar akkuraatheid is belangrik - ‘n verwysing na ‘n nuusberig (datum en naam van publikasie, of skakel na webwerf), of ‘n foto (al is dit met ‘n selfoon geneem), of ‘n kopie van enige gedrukte materiaal maak dit net soveel makliker om gerugte te bevestig.