Archive for Julie, 2008
Die Suidlander bestuur het besluit om ook nou te konsentreer op inisiatiewe wat die veiligheid van ons mense van dag tot dag kan verbeter.
Alhoewel dit eintlik die staat is wat veiligheid vir die inwoners van die land moet verseker, het dit nou al so erg begin raak dat geen wetsgehoorsame burger van die land dit meer kan bekostig om slegs van die regering te verwag om die situasie onder beheer te kry nie. Daarom is dit ook juis nou baie belangrik dat ons mense meer en meer bewus gemaak moet word van wat hulle kan doen om by te dra in die geveg teen misdaad. Dit het tyd geraak dat elke persoon erns moet maak van die situasie en inisiatiewe wat daarop gemik is om misdaad te bestry, begin ondersteun.
Dit is egter onnodig om die wiel te herontwerp, daarom het ons die besluit geneem om inisiatiewe wat reeds bestaan te evalueer, en indien gevind word dat dit reeds goed werk, die inisiatiewe aan u aan te beveel. Hierdie inisiatiewe moet daarop gerig wees om misdaad te bekamp en/of om die veiligheid van mense te verseker. (Slegs inisiatiewe wat binne die wette van die land bedryf word sal na gekyk word)
Daar is reeds verskeie organisasies, meestal streeksgebonde, wat se inisiatiewe goed werk. Die Suidlanders het geen probleem daarmee om organisasies wat reeds werkbare inisiatiewe het, te ondersteun nie.
Ons wil ook ‘n data basis opbou van noodnommers regdeur die land (SAPD, Brandweer, sekuriteits maatskappye & ander organisasies soos buurtwag/plaaswag stelsels ens) Hierdie noodnommers sal dan gepubliseer word beide op die internet sowel as in gedrukte vorm.
Ons wens dus te versoek dat die lesers vir ons asseblief e-poste met besonderhede van noodnommers in u area, sowel as inisiatiewe wat u van bewus is, sal stuur na die databasis.
Dit bly steeds ons doel om pro-aktief te wees ten opsigte van die veiligheid van ons mense indien enige gebeurlikheid aanleiding gee tot grootskaalse chaos, maar wil verseker ook eerder so ‘n situasie eerder vermy indien dit moontlik is. Nasionale optrede teen misdaad deur elke moontlike wettige inisiatief, kan baie bydra om ons mense dalk grootskaalse chaos te spaar.
Rocco het laat weet dat hy twee skud-flitse gehad het, maar dat hulle binne twee maande uitmekaar geskud was. Indien jy dus skud-flitse oorweeg, maak seker dat die kwaliteit van bogemiddelde standaard is.
Rocco en sy familie het besluit om groenteuine aan te lê om minder op hul gebergde kosvoorraad staat te maak. Hy stel voor dat mens nie net sade stoor nie, maar nou al leer HOE om tuin te maak (as jy dit nie alreeds doen nie). Enigiemand kan groente in groot blompotte plant om nou al te leer. Dit is nie so eenvoudig soos om net sade in die grond te druk en alles loop reg nie. Hy het besluit om geen onkruiddoders te gebruik nie (omdat so-iets moontlik nie in ‘n onttrekkingsituasie beskikbaar sal wees nie).
Die belangrikste kennis wat jy nodig het vir ‘n groentetuin, is WANNEER om wat te plant, en hoe lank dit vat vir daardie produk om eet-gereed te raak. Beet neem byvoorbeeld 80 dae (2.5 maande), en dit is een van die vinnigste groentes. Wanneer jy dus begin tuinmaak het jy ‘n 2.5-3 maande periode voor die eerste groente gereed is. Daar is tydskrifte (bv. “Country Life”) wat jou nou al kan help om te leer. Volg ook die skakel op regterhand onder “Kategorieë” na “Biblioteek” en lees oor die boeke wat vroeër voorgestel is om meer te leer van selfversorgendheid.
Minder water meer gereeld is beter as baie water minder gereeld. Rocco sê drie maal per dag het vir hulle gewerk. Bossies uittrek is ‘n daaglikse werk (twee keer per week is te min!), en in ‘n kampeersituasie sal sekere mense toegedeel moet word om slegs die tuine te versorg.
Dit is ook beter om meer as een tuin aan te lê, wat fisies van mekaar verwyder is. Rocco en sy familie het twee tuine gehad wat omtrent 30 meter uitmekaar was. Een van die tuine het onder ‘n plaag deurgeloop, terwyl die ander tuin nie geaffekteer was nie.
Hy gee dan ook die volgende wenke:
- Werk groente-oorblyfsels terug in die grond
- Behandel slakke met growwe sout, maar nie te veel nie (dit benadeel sekere nitraat-ontwikkelende organismes).
- Los grond vir sowat twee weke nadat jy dit omgespit het, moenie onmiddellik plant nie.
- Moenie al jou groente (van een tipe) gelyk plant nie, plant een maal per week, dan word die kos oor ‘n tydperk gereed en nie alles gelyk nie.
- Boerboon sade vir die winter kan einde van April geplant word.
- Kruie tussen die groente hou sekere peste weg.
- As jy ‘n koolkop afsny, los die plant in die grond. Klein koolkoppies groei gou weer wat in potjiekos gebruik kan word.
- Jy kan vinnig weer wortels kry deur die blare so 5-6 cm van die wortel af te sny, en die boonste 2 cm van die wortel met die blare weer te plant.
Daar is nog baie mense wat die Suidlander Funksie in Pretoria (gisteraand) wou bywoon, maar wat nie betyds in kennis gestel kon word van die plek en bevestiging van hul bespreking nie, as gevolg van sekere logistiese probleme.
Daar sal binne die volgende twee of drie weke NOG ‘n funksie gehou word. Sodra die tyd gefinaliseer is, sal dit weer hier gepubliseer word. Hou hierdie spasie dop!
Ons is op soek na 6 meter en 12 meter vraghouers (Containers), dit word benodig vir die berging van nie bederfbare voedsel en klerasie by onttrekkings punte.
Indien iemand ons dalk kan bystaan met inligting waar ons dalk sulke vraghouers kan bekom teen redelike goeie pryse of indien u weet van iemand wat dit kan skenk, sal ons dit baie waardeer indien u ons kan kontak.
Ons sal indien nodig self die vervoer van die vraghouers reël.
Om ‘n radio-amateur te word, verg studie en die aflegging van ‘n eksamen (die eksamen toets jou kennis oor tegniese aspekte van radios, sowel as die regulasies wat amateur radio beheer). Daar is slegs twee geleenthede per jaar om die eksamen af te lê (Mei en Oktober).
Amateur radio is ‘n interessante stokperdjie (indien jy in radio/elektronika belangstel), en ‘n radio amateur word gelisensieer om ‘n verskeidenheid frekwensies te mag gebruik. In die ou dae was dit nodig om Morse-kode te leer om die eksamen af te lê, maar hierdie vereiste is nie meer geldig nie.
Indien daar enige Suidlanders is wat belangstel om die Radio Amateur Eksamen af te lê, is alle inligting wat nodig is op die Suid Afrikaanse Radio Liga se webtuiste beskikbaar. Navigeer deur die spyskaart op linkerhand na “Licensing”, dan “Radio Amateur’s Examination”.
‘n Studiegids is aanlyn beskikbaar. Daar is ook in baie van die groter sentra amateur-klubs wat klasse aanbied vir voornemende amateurs. Die eksamen word landwyd afgeneem (aspirant-amateurs op klein dorpies moet gewoonlik die eksamen op die naaste groot dorp aflê).
‘n Verdere voordeel is dat amateurs nie elke radio wat hulle besit, te hoef lisensieer nie. Die persoon self word gelisensieer en hy/sy kan dan soveel radios as wat hy/sy wil, besit. Die koste vir registrasie vir die eksamen is R300 eenmalig, en die hernuwing van die amateurlisensie is R27 per jaar (vergelyk dit met ‘n burgerband radio lisensie (“CB”) wat R35 per jaar is!).
Die SARL het ook ‘n nood-kommunikasie liggaam, genaamd Hamnet, wat bestaan uit amateurs wat hulself beskikbaar stel om te help met nood kommunikasie tydens krisisse. Hierdie is ‘n wêreldwye verskynsel – lees byvoorbeeld hierdie verslag deur een van die eerste amateurs wat gereageer het op die 11 September 2001 gebeure in New York.
Die sluitingsdatum vir die RAE registrasie is 11 September. Ons raai soveel moontlik Suidlanders as wat kans sien, om hulleself te kwalifiseer as radio-amateurs (en aan te sluit by Hamnet).
In antwoord op die bydrae van Rocco oor sonlig-herlaaibare kampeerlanterns, het ons van leser WillemC ‘n bydrae ontvang oor die skud-flitse wat nou algemeen beskikbaar is.
Hierdie flitse (soos bv. die Shakelight) werk op die beginsel van ‘n magneet wat deur ‘n spoel (of twee) beweeg, en dan genoeg krag opwek om die flits (wat met LED “lampies” werk) te laat brand. Die magneet word beweeg deur die flits heen en weer te skud. Die flitse het (gewoonlik) geen batterye nie (sommige flitse het ‘n klein battery wat deur die magneet-spoel kombinasie herlaai word).
Die LEDs het ‘n leeftyd van tipies 10000 uur, en die flitse is gewoonlik waterdig en redelik robuust. Dit is deesdae algemeen by groot departement-winkels beskikbaar (in die buitelewe afdeling).
‘n Oorlewingsgerigte gesindheid is ‘n redelike en rasionele reaksie op die wêreld waarin ons ons tans bevind. In die verlede is “voorbereiders” gesien as ‘n paranoïese klein groep, wat nie werklik in voeling is met realiteit nie.
Oor die laaste paar jaar het hierdie persepsie wêreldwyd begin verander. Al hoe meer en meer mense sien dat regerings en instansies nie altyd na jou belange sal KAN (of wil) omsien gedurende ‘n krisis nie, en selfversorgendheid word ‘n al meer aanvaarbare lewenstyl. Selfs die Amerikaanse en verskeie Europese regerings beveel nou vir hul burgers aan om o.a. kosrantsoene te berg vir moeilike tye (bv. voedseltekorte tydens stakings).
Sommige mense glo dat ons in die eindtyd leef, maar die teen-argument is dat daar altyd mense is/was wat glo ons is in die eindtyd. Dit is onmoontlik om ‘n tydskaal aan die eindtyd te koppel, maar dis onbetwisbaar dat daar meer tekens van die einde tans is as ooit tevore (vergelyk Mattheus 24).
So as u wat hier lees, nog nie heeltemal oortuig is van die waarde van voorbereiding nie, gaan kyk krities na die omstandighede waarin ons (wêreldwyd) leef. Gaan kyk na wat die instansies waarop u vertrou vir bystand in nood, se baanrekord is, en indien die rekord NIE uitstekend is nie, vra uself af hoekom hulle ANDERS sou optree as U aan die ontvangkant is.
Raak deel van ‘n omgeegroep, stig jou eie indien jy nie weet waar om met een kontak te maak nie. Omgee-groepe is nie deel van ‘n struktuur wat beheer of iewers geregistreer word nie, dis mense wat vir mekaar omgee (tipies buurte, vriendekringe of families), op wie mens kan vertrou om bystand te lewer indien dit nodig is.
Rocco en sy vrou het gaan kampeer toe hulle baba slegs 3 maande oud was. Ek is seker dat meeste van ons so iets sou wou vermy, maar Rocco berig dat dit nie so erg is nie:
Hulle was goed voorbereid, en ten spyte van ‘n koue winter was enige besoeke aan ‘n dokter onnodig. Hy noem dat dit besonder belangrik is dat die baba warm slaap (tussen die ouers indien nodig). In ‘n boskamp word goed baie vuiler as in ‘n huis, so dis belangrik om al die baba se goed te kan steriliseer.
Hulle moes baba-formule gebruik, wat dinge bietjie moeiliker gemaak het – warm water is nodig in die middel van die nag. Omdat dit nie altyd prakties is om ‘n vuur te maak op daardie tyd nie, het hulle warmwaterflesse gebruik (vlekvrye staal – die glas/plastiek goed hou nie). ‘n Staal fles is natuurlik ook handig al het jy dit nie vir ‘n kleinding nodig nie.
Dis belangrik om voorsiening te maak vir al die medisyne wat jy kan nodig kry, soos hoesstroop, verkoue medisyne ens. Selfs al moet jy dit later weggooi sonder om dit te gebruik het, onthou: “Rather have it and not need it, than need it and not have it”.
Laastens beveel Rocco aan dat dit handig kan wees om ‘n noodhulpkursus by te woon om voorbereid te wees om iemand te kan help geboorte skenk. As ten minste een persoon in elke omgee-groep so ‘n kursus kan bywoon behoort daar nooit ‘n tekort aan helpers te wees nie.
Volgens die berig in beeld het die hoeveelheid huisrooftogte nou reeds hand uitgeruk. Dit kom daarop neer dat daar ongeveer 47.45 huisrooftogte per dag plaasvind in die Pretoria omgewing.
Dit is verseker groot rede tot kommer, en dui ook vir my daarop dat mense meer sal moet doen om hulle huise te beveilig teen sulke misdade.
Ons sien ook die volgende “ Altesame 1 490 Pretoriase huisgesinne is tussen April 2007 en Maart vanjaar in hul huise aangeval en beroof. Dit is vier gesinne meer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.”
Ons sal graag wil aanbeveel dat mense BAIE MEER bewus moet raak van hulle eie veiligheid in hulle wonings en meer sal moet doen om aanvalle en rooftogte tuis te verhoed. Moet dus nie onnodig u woning se deure en vensters laat oopstaan nie, let op vir wie u sleutels gee en dat indien sleutels sou wegraak u die slotte ONMIDDELIK moet vervang.
Volgens statistiek vind die meeste aanvalle redelik vroeg aand plaas, net voor die mense gaan slaap wanneer hulle die meeste op hulle gemak is.
